|

Ngwathe-munisipaliteit se stryd om oorlewing bereik finale doodlooppunt ná Konstitusionele Hof-uitspraak

Klankgreep: Alta Pretorius (Afrikaans)
Klankgreep: Alta Pretorius (Engels)

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se stryd om teen ’n 2025-hofbevel vir die ontbinding van die munisipale raad te appelleer, is vandag ’n finale nekslag toegedien in die Konstitusionele Hof. Die hof het vanoggend die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl met kostes van die hand gewys. AfriForum behaal hiermee ’n beduidende en finale oorwinning in sy diensleweringsaak teen dié Vrystaatse munisipaliteit en slaag vir die eerste keer daarin om die ontbinding van ’n plaaslike owerheid met ’n hofbevel af te dwing.

AfriForum beskou die oorwinning van kritieke belang omdat dié saak as presedent kan dien in soortgelyke gevalle waar die organisasie swak dienslewering in ander munisipaliteite beveg.

Die burgerregteorganisasie het in Mei 2024 ’n aansoek ingedien by die Bloemfonteinse Hooggeregshof en versoek dat die Ngwathe-munisipaliteit weens ’n diensleweringskrisis onder provinsiale administrasie geplaas word. Die saak is in Desember daardie jaar aangehoor en in Junie 2025 het regter J.P. Daffue sy uitspraak gelewer. Hy het beslis dat die Ngwathe-munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nakom nie. Hy het beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp. Die munisipaliteit het egter herhaaldelik en sonder sukses probeer om teen dié beslissing te appelleer – eers by die Hoogste Hof van Appèl en nou by die Konstitusionele Hof.

“Vandag se Konstitusionele Hof-uitspraak is die finale spyker in die doodskis van ’n munisipaliteit waar dienslewering lank gelede reeds tot niet gegaan het. Jare se sistemiese tekortkominge in dié munisipaliteit het gelei tot die lewering van besoedelde water, herhaalde rioolstortings, finansiële insolvensie en gebrekkige bestuur. Die hof het dit op verskeie geleenthede duidelik gestel dat dringende en besliste remediëring noodsaaklik is. Ná jare se teenkanting en ’n regsgeding wat meer as ’n jaar geduur het, moet die Ngwathe-munisipaliteit nou die stryd finaal gewonne gee en plekmaak vir die herstel van Parys en ander dorpe in dié munisipaliteit,” verduidelik Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir die Mooirivier-distrik.

Pretorius benadruk dat die dringende herstel van die Ngwathe-munisipaliteit in die belang van die inwoners is. “Ek hoop werklik dat die munisipaliteit nou sal erken dat hulle verloor het en sal plek maak vir mense wat bevoeg is om die werk te doen. Ek hoop ook dat provinsie sal doen wat die hof hulle gelas het om te doen. Die inwoners van Ngwathe kan nie nog houe absorbeer nie. Hulle verdien ’n bevoegde munisipaliteit wat dienste kan lewer.”

Volgens Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, is Parysenaars verheug oor die Konstitusionele Hof se besluit. “Dit was ’n jare lange stryd om tot hier te kom en ons het ernstige teenkanting in die proses getrotseer. Die inwoners van onder meer Parys, Vredefort en Koppies het intussen die duur prys van swak dienslewering betaal en dit elke dag belééf. Maar nou is die oorwinning selfs soeter met die wete dat ons dié hoofstuk finaal kan afsluit en as gemeenskap saam kan begin herbou aan ons dorpe. Vandag het geregtigheid waarlik geseëvier.”

Burger bedank die inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit vir hul vertroue in AfriForum om dié geveg enduit te kon voer. Hy hou ook vol dat elke rolspeler en gemeenskapslid wat betrokke was by die insameling van bewysstukke vir die saak, optogte teen swak dienslewering en ander aksies om druk op die munisipaliteit te plaas, ’n reuseaandeel het in vandag se oorwinning.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik