|

Takel alles van water en paaie tot vullis en riool om Lichtenburg en Coligny reg te ruk – AfriForum

Uit die lys van munisipale probleme waarmee inwoners van die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit, in onder meer Coligny en Lichtenburg, daagliks te kampe het, behoort watervoorsiening, die instandhouding van paaie, die bestuur van vullisverwydering en vullisterreine en rioolsuiweringsaanlegte volgens AfriForum bo-aan die prioriteitslys te wees. Die burgerregteorganisasie se Lichtenburg- en Coligny-takke het dié voorstel ingesluit in hul insette vir die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2026/2027.

Die insette strook met die raamwerk wat gestel word deur artikel 152 van die Grondwet en die oogmerke van plaaslike regering uiteensit.

AfriForum dring in sy insette daarop aan dat dié munisipaliteit se beplanning gerig moet wees op die herstel van paaie, die instandhouding van water- en rioolinfrastruktuur, die lewering van betroubare vullisverwydering, onwettige storting van vullis, die bestuur van vullisterreine en die instandhouding van begraafplase en parke. Die organisasie benadruk egter dat gesonde finansiële bestuur – as voertuig van doeltreffende dienslewering – ook dringende aandag vereis om die munisipaliteit weer op koers te bring.

Volgens Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Marico-distrik, plaas probleme met watervoorsiening reusedruk op inwoners van die Ditsobotla-munisipaliteit. “Die streek is bekend vir sy waterskaarste en hoewel inwoners in ander dele van die land telkens kan staatmaak op boorgatwater, is net ’n klein hoeveelheid boorgate in veral Coligny operasioneel. Dit beteken dat inwoners afhanklik is van watervoorsiening van die munisipaliteit. Gereelde wateronderbrekings, waterlekkasies en vervallende infrastruktuur laat egter inwoners se krane telkens leeg loop,” verduidelik Viljoen.

’n Onlangse verslag van die munisipaliteit self stel dit ook onomwonde dat die munisipaliteit se infrastruktuur verouder, nie in stand gehou word nie en nie aan die behoeftes van die inwoners voldoen nie.    

“Die Ditsobotla-munisipaliteit se inwoners kan nie nog ’n jaar wag in die hoop dat beloftes van dienslewering omskakel in werklike dienslewering nie. Die GOP-proses nou moet benut word om die dringende begrotingsprioriteite vas te stel en dienslewering ten opsigte van water, paaie, riool en vullisverwydering en -terreine te prioritiseer. Dié sake is nie luukshede nie – dit is basiese dienste waarop gemeenskappe geregtig is,” sê Viljoen.

Steyn Kearny, voorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak, hou op sy beurt vol dat gemeenskappe die geleentheid om aan die GOP-proses deel te neem, moet aangryp. “Gemeenskappe moet aktief aan die GOP-proses deelneem sodat die munisipaliteit nie kan sê hulle was onbewus van die probleme nie,” verduidelik hy. Hy voeg by: “Die munisipaliteit se finansiële en administratiewe probleme kan nie as verskoning gebruik word vir die voortgesette verval van basiese dienste nie.”

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Lichtenburg- of Coligny-takke

AfriForum se Lichtenburg- en Coligny-takke plaas deurlopende druk op die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit om te verseker dat geleenthede vir gemeenskapsdeelname, soos deelname aan die GOP-beplanning, nie bloot simbolies hanteer word nie, maar tot werklike verbetering in dienslewering lei.

Word deel van dié takke om ’n aktiewe verskil in die gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik