NERSA sukkel wéér om tydlyne vir munisipale kragtariefaansoeke na te kom
AfriForum waarsku dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se gesukkel om te hou by die tydlyne wat vir munisipale kragtariefaansoeke vasgestel is, weer dreig om vanjaar se proses te kniehalter. Dit volg nadat die energiereguleerder vandeesweek ’n dringende hofaansoek gebring het om ’n vorige hofbevel – wat nuwe, billike tydlyne vasgestel het – te laat hersien. NERSA het aangedui het dat hy nie by dié voorgeskrewe tydlyne sal kan hou nie.
Die burgerregteorganisasie het die hof in Augustus verlede jaar genader om NERSA se openbare deelnameproses wat vir die instelling van die 2025/2026-boekjaar se munisipale kragtariewe gevolg is, ongeldig te laat verklaar weens ernstige prosedurele gebreke. AfriForum het ook die hof versoek om ’n interdik uit te reik om gespesifiseerde tydlyne vir toekomstige openbare deelnameprosesse te verseker. Daarvolgens is versoek dat duidelike datums vir die goedkeuring van munisipale tariefverhogingsaansoeke vasgestel moet word en die volgende moet bepaal:
- wanneer Eskom se grootmaataankooptariewe gefinaliseer moet wees;
- wanneer munisipaliteite hul aansoeke by NERSA moet indien;
- hoe lank die publiek geleentheid moet kry om kommentaar te lewer; en
- teen wanneer NERSA sy finale besluite moet publiseer.
Die Pretoriase Hooggeregshof het op 31 Oktober in AfriForum se guns beslis en bepaal dat NERSA se goedkeuring vir die implementering van munisipale kragtariewe sonder die gebruik van behoorlike kostestudies en openbare deelnameprosesse, ongrondwetlik is. Teen Desember is AfriForum se interdik om die implementering van spesifieke tydlyne vir alle toekomstige munisipale kragtariefaansoeke ook toegestaan en bepaal dat NERSA streng by dié tydlyne moet hou.
NERSA beweer egter nou in sy jongste aansoek dat die voorgeskrewe tydlyne waarop in Desember ooreengekom is, nie prakties uitvoerbaar is nie en versoek daarom ’n wysiging van die hofbevel. Hoewel AfriForum nie die aansoek formeel teenstaan nie, het die organisasie ernstige voorbehoude daaroor uitgespreek.
Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregringsake by AfriForum, voer aan dat NERSA in sy hofstukke wel gedeeltelike verantwoordelikheid aanvaar. “Dit blyk egter dat die reguleerder nie volle aanspreeklikheid aanvaar vir sy versuim as toesighouer en handhawer van die regulatoriese raamwerk nie. In sy aansoek verwys NERSA onder meer na Eskom, die vakansieseisoen en selfs die hofuitspraak as bydraende faktore vir waarom die tydlyne nie nagekom kan word nie,” verduidelik sy.
NERSA voer voorts ook aan dat die hof nie voldoende voorsiening gemaak het vir die “praktiese implikasies van die 2026/2027-boekjaar” nie.
Luidens NERSA se aansoek stel die energiereguleerder voor dat die sperdatum vir munisipaliteite se aansoek om kragtariefverhogings na 17 April uitgeskuif moet word. “Dit laat egter nie genoegsame tyd toe vir ’n behoorlike openbare deelnameproses nie en dit was juis die kernrede waarom verlede jaar se proses ongeldig verklaar is,” benadruk Steffens.
NERSA se voorgestelde tydlyne beteken dat die publikasie van finale besluite eers teen 29 Mei gedoen sal word. “Dié vertraging in die publikasie van NERSA se besluite sal munisipaliteite wie se voorgestelde tariefverhogingsaansoeke aangepas is, onder geweldige druk plaas om hul begrotings betyds daarvolgens aan te pas. Dit sal voorts ook beteken dat daar nie genoeg tyd sal wees om munisipaliteite of ander belanghebbende partye se dispuut- of hersieningsaansoeke te hanteer nie. In geheel is die voorgestelde tydlyn onhaalbaar,” sluit Steffens af.
Die Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Owerheidsvereniging (SALGA) het ook insette gelewer rakende NERSA se aansoek.
Die saak word op 17 Februarie 2026 in die Noord-Gautengse Hooggeregshof aangehoor.
Uiteensetting van bestaande tydlyne (soos goedgekeur deur die hof), NERSA se jongste aangepaste tydlyne en AfriForum se aangepaste tydlyne na aanleiding van die jongste NERSA-aansoek
| Huidige sperdatum (volgens hofbevel) | NERSA-aansoek | AfriForum-voorstel | |
| Kennisgewing oor nuwe grootmaataankooptarief | 31 Januarie | 13 Maart | – |
| Kennisgewing aan munisipaliteite om aansoeke in te dien | 31 Januarie | 17 April | – |
| Sperdatum vir munisipaliteite se aansoeke | 20 Maart | 17 April | 7 April |
| Publikasie van NERSA se finale besluite | 5 Mei | 29 Mei | 8 Mei |



