‘’n Skatkis uit ons musiekverlede’ ’n viering van die vrouestemme wat Suid-Afrika gevorm het
Maak gereed vir nostalgie, ’n tikkie heimwee en ikoniese musiek as deel van ’n onvergeetlike musiekreis wat hierdie naweek (Sondag 2 Augustus om 15:00) op die planke kom by die AfriForum Teater in Pretoria. ’n Skatkis uit ons musiekverlede is ’n musiekproduksie wat hulde bring aan die legendariese vrouestemme wat gehelp skryf (oftewel sing) het aan ons land se kleurvolle musiekverlede. Laat die stem van die veelsydige en betowerende sangeres Stephanie Baartman en die klanke van klavier, soos bespeel deur die uitnemende pianis en musiekregisseur Chanie Jonker, jou hierdie naweek betower.

’n Skatkis uit ons musiekverlede bring ’n keur van ikoniese musiek – met die wêreldklanke van Miriam Makeba (Mama Africa), PJ Powers, Mango Groove en Barbara Ray tot die geliefde Afrikaanse treffers van Laurika Rauch, Rina Hugo, Karen Zoid en Sonja Herholdt. Dié musiekerfenis word in ’n Skatkis uit ons musiekverlede verweef tot ’n ryk tapisserie van herinneringe, emosie en soms selfs humor. Hierdie produksie, met trots aangebied deur Lefra Produksies en onder die bekwame regie van Frans Swart, vier nie goud of juwele nie, maar Suid-Afrika se ware skatte – stories, mense én musiek.
’n Skatkis uit ons musiekverlede word aangebied in samewerking met die AfriForum Teater en die trotse ondersteuning Ambassador Execu-Drive, Britz Couriers & Removals, Feeste.net, Hollywood Costumes, Lekker FM, LTickets, LIFT, Mannah Executive Hotel & Conference Centre, Mobilis Auto, RSG, Shereno Printers en Van Loveren.
’n Skatkis uit ons musiekverlede is ’n viering van ons herkoms en ’n herinnering aan die krag van musiek om ons saam te snoer. Moenie hierdie besondere huldeblyk op Sondag 2 Augustus om 15:00 in die AfriForum Teater misloop nie.
Kaartjies is beskikbaar by www.afriforumteater.co.za.
Meer oor Stephanie Baartman
Baartman is reeds ’n gevestigde naam in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. Die land het in 2010, tydens haar deelname aan die derde seisoen van Supersterre, van dié sangeres met die fluweelstem begin kennis neem.Sedertdien bekoor sy gehore met haar musiek, stem en opregte verhoogpersoonlikheid. Haar vermoë om emosie deur musiek oor te dra, sorg vir ’n besondere vertolking van en kragtige huldeblyk aan die musiek wat in ’n Skatkis uit ons musiekverlede weer herleef.
Benewens haar sangloopbaan, is Baartman ook bekend vir haar rolle op televisie en in teaters. Sy is tans te sien as Lettie Adonis in die KykNET-reeks Diepe waters, en voorheen as Bibi Bhele in Getroud met rugby.
Baartman het ná skool haar tuisdorp Humansdorp agtergelaat en aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria studeer, waar sy later haar graad in drama voltooi het.
Sy is ’n kunstenaar in hart en siel – ewe tuis in teater, televisie, op radio en voor die mikrofoon as stemkunstenaar. Haar eerste liefde bly egter musiek waar sy in Afrikaans en Engels haar veelsydigheid as kunstenaar uitleef in uiteenlopende genres soos jazz, gospel en country. Sy bring nie net tegniese vaardigheid na die verhoog nie, maar ook ’n diep menslikheid wat elke uitvoering uniek maak.
Meer oor Chanie Jonker

Chanie Jonker, een van die land se voorste begeleiers en musiekregisseurs, skuif vir ’n Skatkis uit ons musiekverlede in voor die klavier en laat die musiek behoorlik leef deur die klawers. Sy is ’n uiters bekwame en klassiek-opgeleide pianis met ’n BMus-graad (cum laude) van die Universiteit van Pretoria en verdere musiekkwalifikasies verwerf aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en die Associated Board of the Royal Schools of Music (ABRSM) in die Verenigde Koninkryk.
Haar musikale reis strek oor verskeie genres – van klassiek tot jazz en kontemporêr – en sy het reeds saam met verskeie bekende kunstenaars, soos Jannie du Toit, André Schwartz en Nadia Beukes, opgetree. As musiekregisseur bring sy ’n fyn aanvoeling vir detail en ’n diep begrip van musikale storievertelling na hierdie produksie.
’n Kragtige musikale vennootskap
Baartman, Jonker en Swart het reeds as span bewese sukses behaal met hul bekroonde huldeblykproduksie Gé sing: Hoor my lied. Die oorspronklike lied “Ons Gé”– geskryf deur Swart en Jonker en vertolk deur Baartman – het hieruit voortgevloei. Dit het gehore landwyd aangeraak en is later, ná oorweldigende aanvraag, ook professioneel opgeneem. Hierdie kreatiewe vennootskap getuig van ’n gedeelde passie vir Suid-Afrikaanse musiek en ’n besondere vermoë om emosie en erfenis op die verhoog vas te vang.
Besonderhede oor ’n Skatkis uit ons musiekverlede
Deur: Frans Swart en Stephanie Baartman
Met: Stephanie Baartman en Chanie Jonker op klavier
Musiekregie: Chanie Jonker
Regie: Frans Swart
Datum: Sondag 2 Augustus om 15:00
Kaartjies is beskikbaar by www.afriforumteater.co.za.



