|

Entrepreneurs droom reeds van jongs af

Deur Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum

“Mamma, kan ek koekies bak en dit verkoop?”

Vir baie ouers is dit bloot ’n oulike vraag wat ’n glimlag ontlok. Wat as dit egter veel meer is? Wat as dit die begin is van ’n kind wat leer om geleenthede raak te sien, probleme op te los en verantwoordelikheid vir sy/haar eie toekoms te neem?

Ons leef in ’n tyd waarin kinders voorberei word vir beroepe wat vandag nog nie eens bestaan nie. Kunsmatige intelligensie, digitalisering en ’n voortdurend veranderende ekonomie beteken dat kennis alleen nie meer genoeg is nie. Jongmense sal kreatief moet kan dink, risiko’s verantwoordelik moet kan bestuur, aanpasbaar moet wees en die selfvertroue moet hê om nuwe oplossings te ontwikkel. Dit is presies wat entrepreneurskap hulle leer.

Om hierdie rede is AfriForum se jaarlikse Besigheidsbytjies-werkswinkels veel meer as net ’n geleentheid waar kinders leer hoe om geld te maak. Dit is ’n investering in die ontwikkeling van jongmense wat eendag nie bloot op geleenthede sal wag nie, maar dit self sal skep. Dié werkwinkels word vanjaar op 29 September in Gauteng en 5 Oktober in die Wes-Kaap aangebied.

Wanneer die woord entrepreneur gebruik word, dink baie mense onmiddellik aan bekende sakelui of groot ondernemings. Tog is entrepreneurskap in wese ’n wyse van dink. Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) beskryf entrepreneurskap as die vermoë om idees in waarde te omskep – maak nie saak of daardie waarde ekonomies, sosiaal of gemeenskapsgerig is nie. Met ander woorde: Entrepreneurs sien nie net probleme raak nie; hulle vra: “Hoe kan ek hierdie probleem oplos?”

Dit is ’n ingesteldheid wat kinders reeds op laerskool kán ontwikkel.

Dink aan ’n leerder wat opmerk dat ouers tydens sportdae lank in rye moet staan om eet- en drinkgoed te koop. In plaas daarvan om die wagtyd bloot te aanvaar, sien hy ’n geleentheid en begin ’n voorafbestelstelsel vir verversings. Of dink aan die dogter wat armbandjies maak en verkoop om geld vir haar droomfiets in te samel. Hulle leer nie net hoe om iets te verkoop nie; hulle leer om behoeftes raak te sien, oplossings te vind, verantwoordelikheid te aanvaar en met mense te kan werk.

Dit is presies waarom entrepreneurskapsonderrig wêreldwyd al hoe groter aandag geniet.

Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum ontwikkel entrepreneurskap nie net sakevaardighede nie, maar ook die sogenaamde “vaardighede van die toekoms”: kreatiwiteit, kritiese denke, probleemoplossing, kommunikasie, samewerking en veerkragtigheid. Dit is dieselfde vaardighede waarna werkgewers toenemend op soek is, ongeag die beroep wat iemand uiteindelik kies.

Met ander woorde, selfs al begin kinders nooit hul eie onderneming nie, sal ‘n entrepreneuriese ingesteldheid hulle steeds help om byvoorbeeld ’n beter werknemer, bestuurder, onderwyser, ingenieur of gemeenskapsleier te wees.

Vir Suid-Afrika is hierdie vaardighede van besondere belang.

Ons land worstel reeds jare lank met buitengewone hoë jeugdwerkloosheid. Die oplossing lê natuurlik nie uitsluitlik in entrepreneurskap nie, maar dit vorm beslis deel van die antwoord. Jongmense wat leer om self geleenthede te identifiseer, verantwoordelik risiko’s te neem en waarde te skep, is minder afhanklik daarvan dat iemand anders eendag vir hulle werk moet gee.

Die Verenigde Nasies se Kinderfonds (UNICEF) wys daarop dat entrepreneurskapsprogramme vir jongmense die grootste impak het wanneer kinders self kan eksperimenteer, praktiese ervaring opdoen, mentorskap ontvang en uit hul eie foute leer. Sulke ervarings bou nie net sakekennis nie, maar ook selfvertroue, deursettingsvermoë en leierskap.

En miskien is dit die grootste waarde van entrepreneurskap – nie dat elke kind eendag ’n miljardêr gaan word nie, maar dat elke kind leer dat mislukkings nie die einde is nie; dat probleme opgelos kan word; dat harde werk resultate lewer; dat goeie beplanning belangrik is; dat eerlikheid en betroubaarheid kliënte terugbring; en dat diens aan ander uiteindelik die grondslag van enige suksesvolle onderneming vorm.

Dit is lewenslesse.

Ouers speel uitraard ’n sleutelrol in dié opsig. Entrepreneurskap begin nie eers wanneer ’n kind eendag ’n vak soos besigheidstudies neem nie. Dit begin wanneer ouers kinders aanmoedig om vrae te vra, nuwe idees te probeer, sakgeld verantwoordelik te bestuur, hul eie produkte te maak of ‘n stalletjie by ‘n skoolmark te bedryf. Elke klein ervaring help om selfvertroue en onafhanklikheid te bou.

Skole het eweneens ’n belangrike verantwoordelikheid. Onderwys behoort nie slegs kennis oor te dra nie; hulle leiding behoort jongmense toe te rus om met selfvertroue die wêreld in te gaan. Programme wat entrepreneurskap op ’n praktiese en prettige wyse aanbied, help kinders om reeds vroeg die verband tussen kreatiwiteit, harde werk en verantwoordelikheid te verstaan.

Dit is juis wat AfriForum se Besigheidsbytjies-werkswinkels beoog.

Hier kry kinders die geleentheid om op ouderdomsgepaste wyse kennis te maak met die grondbeginsels van entrepreneurskap, finansiële vaardighede, kliëntediens, bemarking en kreatiewe probleemoplossing. Nóg belangriker: Hulle ontdek dat hul idees waarde het en dat hulle sélf ’n verskil kan maak.

In ’n samelewing waarin dit dikwels makliker is om op probleme eerder as op oplossings te fokus, het ons meer jongmense nodig wat geleenthede raaksienen wat verantwoordelikheid neem; jongmense wat nie wag dat iemand anders verandering bring nie, maar self begin bou.

Elke entrepreneur is immers iemand wat eens iemand met ’n idee gesit het. Miskien sit die volgende uitvinder, tegnologieontwikkelaar, boer, onderwyser, sakeleier of gemeenskapsbouer vandag in jou huis of in jou kind se klaskamer.

Die vraag is nie of jou kind potensiaal het nie. Die vraag is of jy hom of haar die geleentheid gaan gee om dit te ontdek. En dalk begin daardie reis op 29 September of 5 Oktober by AfriForum se Besigheidsbytjies-werkswinkel. Skryf vandag nog in by www.besigheidsbytjies.co.za.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf