AfriForum Sakenetwerk waarsku: Nuwe kapitaalregulasies kan ekonomiese vryheid verder versmoor
Indien die voorgestelde Konsepregulasies vir Kapitaalvloeibestuur van 2026 in die huidige vorm aanvaar word sal dit lei tot verdere regeringsbeheer oor ondernemings, beleggers en wettig bekomde bates. Dít is die kern van AfriForum Sakenetwerk se kommentaar wat by die Nasionale Tesourie ingedien is.
Hoewel AfriForum Sakenetwerk die bekamping van geldwassery, bedrog en onwettige finansiële aktiwiteite steun, kan dié doel nie as rede voorgehou word om buitensporige regeringsmagte, onduidelike besluitneming en verdere administratiewe laste op wettige ondernemings af te dwing nie.
“Hierdie regulasies skep die gevaarlike indruk dat die regering toenemend die beweging van wettige kapitaal wil beheer. Dit is presies die soort onsekerheid wat beleggers afskrik, entrepreneurs kniehalter en ekonomiese groei versmoor,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum.
Volgens AfriForum Sakenetwerk is veral die wye diskresionêre magte wat aan die regering verleen word, kommerwekkend. Die voorgestelde regulasies maak voorsiening vir onder meer die goedkeuring of verbod van transaksies, die toestaan of terugtrek van vrystellings, asook die bevriesing, beslaglegging en moontlike verbeuring van bates. Sonder duidelike, objektiewe en voorspelbare kriteria hou dit ernstige risiko’s vir regsekerheid en eiendomsreg in.
AfriForum Sakenetwerk waarsku verder dat die regulasies die persepsie kan versterk dat Suid-Afrika wegbeweeg van ’n oop en mededingende ekonomie na ’n meer beperkende kapitaalbeheeromgewing. Dit kom op ’n tydstip waar die land juis dringend beleggings, uitvoergroei, entrepreneurskap en werkskepping nodig het.
“Die regering kan nie aan die een kant beleggers probeer lok en aan die ander kant regulasies instel wat beleggers laat wonder of hulle hul eie geld en bates vrylik sal kan bestuur nie,” voeg Corné Cronjé, AfriForum se hoof van Gemeenskapbou by.
AfriForum Sakenetwerk is ook bekommerd oor die impak wat die voorgestelde vereistes op klein- en mediumgrootte ondernemings kan hê. Baie van hierdie ondernemings het nie afsonderlike nakomingsafdelings nie en word reeds deur toenemende regulatoriese druk, hoë kostes en ’n swak ekonomiese klimaat geknou.
Die netwerk het die Nasionale Tesourie versoek om die regulasies heroorweeg en te verseker dat enige maatreëls teen onwettige finansiële aktiwiteite nie wettige handel, belegging, innovasie en kapitaalvorming benadeel nie.
“Ekonomiese groei word nie gebou deur entrepreneurs met nog rompslomp, onsekerheid en regeringsinmenging te belas nie. Die land het minder hindernisse en meer vertroue nodig,” sluit Cronjé af.



