Nuwe soort protospanopleiding sorg vir aksiebelaaide naweek
Deur Chanté Kelder





Die skote het behoorlik die afgelope naweek (28 en 29 Augustus) uit die Airsoft-gewere geklap toe AfriForum se Mpumalanga-protospanne ’n scenario inoefening gehad het op ’n verlate plaas buite Chrissiesmeer. Die protospanne van onder meer Delmas, Middelburg, Standerton, Piet Retief, Machadodorp en Nelspruit het aan hierdie scenario inoefening deelgeneem.
Gedurende hierdie scenario het protospanlede gepoog om die omstandighede van ’n plaasaanval na te maak en lede het in hul volle taktiese drag, kompleet met koeëlvaste baadjies, nagsigtoerusting, handradio’s en met behulp van hommeltuie, aan hierdie inoefening deelgeneem.
“Dit is die eerste keer wat ’n protospanopleiding só lyk,” sê Hennie Bekker, AfriForum se streekshoof vir Mpumalanga en Limpopo. “Gewoonlik wanneer ons scenario’s ingeoefen het was dit ’n statiese oefening. Protospanlede het hul gewone rolle vertolk en die teikens het nie beweeg nie. Dit het gewerk, maar ons het besef dit is nodig dat hierdie tipe opleiding bietjie ’n ander baadjie moet aantrek.”
Die protospanlede is in twee spanne verdeel, die een span het die rol van die misdadigers gespeel terwyl die ander span die veiligheidsplan moes uitvoer. Elke protospanlid is toegerus met ’n Airsoft-geweer, hierdie gewere is battery-aangedrewe en vuur dan ’n plastiese koeëltjie af. Hierdie gewere stel protospanlede in staat om werklike omstandighede na te boots sonder die risiko’s wat daarmee gepaardgaan. Die rolle is later omgeruil sodat elke protospanlid ’n geleentheid kon kry om die veiligheidsplan uit te voer.




Die verlate plaas waar die opleiding plaasgevind het, het die ideale omstandighede geskep om die scenario so realisties as moontlik te maak aangesien daar selfs ou store was waar protospanlede kon wegkruip en van waar hulle kon skote afvuur.
“Hierdie scenario inoefening het protospanlede ook in staat gestel om te beplan rondom moontlike beserings wat opgedoen kan word tydens só operasie en hoe beseerdes veilig onttrek kan word om hulp te kry,” voeg Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld by.
Daar is selfs ruimte geskep vir sabotasie waar een span ’n handradio van die ander span kon steel om kommunikasie te onderskep, hul posisies weg te gee en kommunikasie na die hommeltuig en ander spanlede te blokkeer. Skerp flitse is ook ingespan om die ‘misdadigers’ te verblind en dit moontlik te maak vir ander spanlede om veilig nader aan die plaashuis te beweeg.
“Ons het gesien dat protospanlede geneig is om te dink dat spoed beter is gedurende hierdie inoefening, maar dit het vinnig vir hulle duidelik geword dat dit nie die beste koers is nie. Hulle het aangepas en eerder gefokus op ’n metodiese benadering om druk te plaas op die ‘midadigers’ en sodoende ’n beter resultaat gekry,” sê Van Heerden voorts.
Die naweek het egter oor meer as net die aksiebelaaide scenario inoefening gegaan, daar is ook van hierdie geleentheid gebruik gemaak om die Mpumalanga protospan-gilde te stig. Dié gilde sal uiteindelik die koördinering van hierdie tipe opleidingsgeleenthede vergemaklik aangesien verskillende protospanne die geleentheid gaan kry om ’n scenario inoefening te reël. Die betrokke span sal dan verantwoordelik wees daarvoor om die scenario op te stel, die ligging te kies en gasheer te speel vir die res van die protospanne.
“Hierdie tipe opleidingsgeleenthede is veronderstel om gereeld plaas te vind om te verhoed dat protospanlede hul vaardighede verleer en eerder te sorg dat dit geslyp bly sodat hulle gereed is wanneer situasies soos hierdie in die werklikheid afspeel,” sluit Bekker af.



