|

Masemola voorlopig geskors: Kommissaris volg in voetspore van lang lys mislukte voorgangers – AfriForum

Jacques Broodryk (Afrikaans)

Generaal Fannie Masemola se voorlopige skorsing as nasionale kommissaris van Polisie vandag, is volgens die burgerregteorganisasie AfriForum, ’n skandelike bewys van die langdurige sistemiese verval in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Met dié skorsing volg Masemola in die onbenydenswaardige voetspore van talle van sy voorgangers wat dié amp onder ’n wolk van korrupsie, wangedrag, bedrog en onbekwaamheid moes ontruim. Generaal Puleng Dimpane is intussen as waarnemende nasionale kommissaris van Polisie aangewys.

AfriForum verwelkom die beslissende optrede om Masemola voorlopig te skors ná hy Dinsdag in die Landdroshof in Pretoria verskyn het op vier aanklagte van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA). Die aanklagte hou verband met ’n beweerde onreëlmatige polisietender ten bedrae van R360 miljoen.

Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê Masemola se voorlopige skorsing is, te midde van die ernstige aanklagtes teen hom, noodsaaklik, maar waarsku dat die jongste verwikkelinge die SAPD selfs verder sal destabiliseer. “Die besluit sal operasionele onsekerheid en ’n verdere daling in die moreel van polisielede en die publiek se vertroue in die polisiediens tot gevolg hê,” verduidelik hy.

“Indien die aantygings teen Masemola waar is, bevind hy hom nou in dieselfde geselskap as vorige kommissarisse soos Jakie Selebi, Bheki Cele en Riah Phiyega wat die SAPD se reputasie ongekende skade berokken het. Die aanstelling van sterk, etiese leiers is nou – te midde van die huidige storms in die SAPD – meer nodig as ooit te vore indien Suid-Afrika misdaad werklik wil bekamp,” sluit Broodryk af.     

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik