| |

Brandstof in Suid-Afrika: Wat dryf die pryse?

Zel-Marí Gelderblom

AfriForum het vroeër ’n beroep gedoen op Enoch Godongwana, die Minister van Finansies,  om die brandstofheffing te verlaag te midde van ’n verergerende wêreldwye energiekrisis wat deur die konflik in Iran aangevuur word. Die organisasie het gewaarsku dat stygende oliepryse ’n domino-uitwerking op die ekonomie sou hê, aangesien hoër vervoerkoste deur die hele waardeketting na verbruikers deurwerk. In dié konteks het AfriForum aangevoer dat ’n tydelike verlaging van die heffing, soos in 2022, ’n gepaste wyse sou wees om die druk op huishoudings te verlig.

Teen hierdie agtergrond het AfriForum die daaropvolgende aankondiging van ’n verlaging verwelkom en dit as ’n aanduiding van die sukses van openbare druk beskryf. Die organisasie het egter beklemtoon dat groter deursigtigheid oor die land se strategiese brandstofreserwes nodig bly, en dat die breër belastinglas op brandstof verder hersien moet word.

Die tydelike verligting vir Suid-Afrikaners het intussen die broosheid van Suid-Afrika se brandstofvooruitsigte beklemtoon. Ná ’n tydelike skietstilstand tussen die VSA en Iran het spanning vinnig weer opgevlam, met die aankondiging van ’n moontlike blokkade van die Straat van Hormoes deur die VSA, wat oliepryse weer bo $111 per vat gestoot het.

Vir Suid-Afrika, wat grootliks op ingevoerde brandstof staatmaak, is die impak direk. Die kombinasie van stygende oliepryse en ’n verswakkende rand verhoog die waarskynlikheid van verdere brandstofprysstygings en hoër inflasiedruk. Dit beklemtoon hoe afhanklik die plaaslike ekonomie van geopolitieke ontwikkelinge bly.

Hoewel Suid-Afrika se brandstofpryse op papier redelik mededingend lyk, verdoesel dit die werklike druk op verbruikers. Hierdie relatiewe voordeel is grootliks die gevolg van tydelike fiskale ingrypings, waarsonder pryse waarskynlik reeds bo die wêreldgemiddeld sou wees. Daarby word koopkragverskille nie in ag geneem nie, wat beteken dat brandstof plaaslik relatief duurder is vir die gemiddelde verbruiker.

Streeksgewys wys groot prysverskille, tussen Suid-Afrika en die wêreld,  van goedkoop brandstof in Angola tot besonder duur brandstof in Malawi en Zimbabwe   hoe beleid, belasting en voorsiening ’n bepalende rol speel. Terselfdertyd het die eskalerende konflik in die Midde-Ooste ’n skerp styging in ruoliepryse veroorsaak, wat geleidelik na verbruikers deurwerk en Suid-Afrika se blootstelling aan eksterne skokke verder vergroot.

Die April-aanpassing van brandstofpryse beklemtoon die komplekse wisselwerking tussen internasionale markte en plaaslike beleid. Stygende ruolie- en produkpryse, verhoogde vervoerkoste en ’n swakker rand het saam ’n beduidende opwaartse druk op brandstofpryse geplaas.

Plaaslike beleidsingrypings het wel ’n mate van verligting gebied, maar bly beperk. Verhogings in heffings en tariewe het die druk gedeeltelik verlaag, wat beteken dat die algemene trajek van brandstofkoste steeds opwaarts neig. Die gevolg is ’n prentjie waarin Suid-Afrika se brandstofpryse gevorm word deur ’n kombinasie van wreldwye onsekerheid en binnelandse beleidskeuses – met verbruikers wat uiteindelik die grootste las dra.

Zel-Marí Gelderblom is ’n koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad in genderpolitiek met lof aan die Nelson Mandela-Universiteit behaal. Sy is ook die aanbieder van AfriForum in fokus.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf