Van verf tot verfraaiing: Só bou AfriForum-tak aan ’n beter Christiana

AfriForum se Christiana-tak het in Julie weer behoorlik skouer aan die wiel gesit om deur sy uiteenlopende gemeenskapsprojekte te bou aan ’n veiliger en skoner Christiana. ’n Verfraaiingsprojek, die herstel van gevaarlike slote en die skenking van verf aan kleuterskole en broodnodige kos aan ’n plaaslike diereskuling was alles die afgelope maand op dié tak se lys van gemeenskapsprojekte – projekte wat getuig van die tak se volgehoue verbintenis tot gemeenskapsontwikkeling.
As deel van die tak se ondersteuning van plaaslike opvoedkundige instellings is meer as 40 liter verf aan die Klein Robijn-kindertuin en Wielie Walie-kleuterskool geskenk. Die verf sal gebruik word vir opknappingswerk om ’n netjiese en aangename leeromgewing vir kinders te skep.
Die tak het ook meer as 50 kg honde- en katkos aan ’n plaaslike diereskuiling geskenk om die skuiling by te staan met die versorging van diere en om die druk wat die skuiling tans ervaar, te help verlig.

Christiana se AfriForum Jeug-tak het op hul beurt ’n verfraaiingsprojek aangepak waartydens meer as 20 blompotte en asblikke in die dorp geverf is. Die projek het nuwe lewe in die dorp se straatmeubels geblaas en dra by tot ’n netjieser en aantrekliker omgewing.
Padveiligheid het ook aandag geniet toe die tak met ’n trekker-graaflaaier oop slote in Wes-, President- en Forsmanstraat toegeskraap het. Die slote het ’n ernstige veiligheidsrisiko vir padgebruikers en voetgangers ingehou, en die herstelwerk maak hierdie dele van die dorp nou weer veilig vir die gemeenskap.

Bianca van der Westhuizen, takvoorsitter van AfriForum se Christiana-tak, meen dié projekte maak ’n tasbare verskil in dié dorp. “Ons is trots daarop om met ons praktiese projekte ’n verskil in Christiana maak. Elke projek wat ons aanpak, dra by tot ’n veiliger, netjieser en sterker gemeenskap. Ons is dankbaar teenoor elke vrywilliger en ondersteuner wat hul tyd en hulpbronne beskikbaar stel om hierdie projekte moontlik te maak,” verduidelik sy.
Raak betrokke
Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Christiana-tak en werk saam aan die ontwikkeling en verbetering van Christiana. Hou die tak se Facebook-blad dop vir toekomstige projekte.



