Plaaslike ekonomie in gedrang weens swak padoppervlak in Springbok
Die padoppervlak van Springbok se industriële gebied is op dele in só ’n haglike toestand dat dit dreig om die dorp van broodnodige ekonomiese geleenthede te ontneem. AfriForum het daarom die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit versoek om dadelik met werkbare oplossings vorendag te kom om die toestand van die paaie, veral in Inrystraat, te verbeter.
AfriForum hou vol dat die toestand van Inrystraat só versleg het dat die pad by tye byna onbegaanbaar is weens groot slaggate en ernstige skade aan die ryvlak. Hierdie straat dien as die hoof toegangspad tot die industriële gebied en word daagliks deur sakelui en swaar voertuie gebruik.
“Die industriële gebied is ’n belangrike ekonomiese kern van Springbok waar daar daagliks inkomste gegenereer word. Dit is daarom onaanvaarbaar dat die hoofroete in só ’n haglike toestand is,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.
AfriForum wys daarop dat die probleem nie tot Inrystraat beperk is nie, maar dat verskeie paaie in Springbok ook dringend herstelwerk en instandhouding benodig. Die burgerregteorganisasie is van mening dat die verval van infrastruktuur nie net inwoners en motoriste benadeel nie, maar ook ekonomiese ontwikkeling terughou.
Die organisasie het die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit se munisipale bestuurder, Refilwe Sebela, versoek om dringend aandag aan die probleem te gee, met ’n werkbare oplossing vorendag te kom en behoorlike herstelwerk te prioritiseer.
“Indien daar nie daadwerklik opgetree word nie, gaan die infrastruktuur verder agteruitgaan in plaas daarvan om vooruitgang en ontwikkeling te ondersteun. Die inwoners en ondernemings van Springbok verdien veilige en bruikbare paaie,” sluit Strauss af.



