| | |

Knysna-tak skenk loodgieterstoerusting aan munisipaliteit

AfriForum se Knysna-tak het op 6 Maart vyf volledig toegeruste gereedskapkiste met loodgieterstoerusting aan die Knysna Plaaslike Munisipaliteit se direkteur van Infrastruktuurdienste, Reggie Wesso, oorhandig. Hierdie toerusting sal die munisipaliteit se loodgieterspanne in staat stel om loodgieterswerk deeglik te verrig.

Hierdie bydrae vorm deel van AfriForum se volgehoue pogings om plaaslike dienslewering te ondersteun en praktiese oplossings vir uitdagings met infrastruktuur te help bewerkstellig – veral in die lig van die ernstige waterverliese wat die gebied tans ervaar.

Volgens AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, Marthinus Erasmus, is die doel van die skenking om te verseker dat die munisipale spanne alles het wat hul benodig om waterlekkasies en stukkende pype spoedig en doeltreffend uit die weg te ruim.

“Ons wil verseker dat die nodige hulpmiddels beskikbaar is sodat dringende herstelwerk sonder onnodige vertragings aangepak kan word. In ’n tyd waar elke druppel water tel, is dit noodsaaklik dat tegniese spanne vinnig en doeltreffend kan optree,” sê Erasmus.

AfriForum is daartoe verbind om toe te sien dat die toerusting doeltreffend aangewend word en werklik ’n verskil op grondvlak maak.

Erasmus spreek ook sy vertroue uit dat ’n formele samewerkingsooreenkoms tussen AfriForum en die munisipaliteit binnekort gesluit sal word. Só ’n ooreenkoms sal die geleentheid  skep vir gestruktureerde samewerking, aanspreeklikheid en volhoubare ondersteuning.

“AfriForum is oortuig daarvan dat formele samewerking tussen gemeenskappe en plaaslike owerhede, tesame met aktiewe gemeenskapsbetrokkenheid, die enigste volhoubare oplossing vir Suid-Afrika se diensleweringsuitdagings is. Wanneer die burgerlike samelewing en munisipaliteite doelgerig saamwerk, kan hulpbronne beter aangewend, kundigheid gedeel en aanspreeklikheid versterk word. Gemeenskappe moet ophou wag vir ‘n politieke oplossing, en eerder inspring en deel raak van die oplossing.  AfriForum se Knysna-tak staan gereed om deel van hierdie langtermynoplossing te wees,” sluit Erasmus af.

AfriForum moedig inwoners aan om deel te word van die tak se projekte en saam te bou aan ’n kultuur van selfdoen.

Sluit vandag nog aan by die Knysna-tak, en help hulle om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za, of skakel vir Erasmus by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf