Uurglas vir twee Johannesburg-vullisterreine nou leeg – AfriForum het daaroor gewaarsku
’n Week nadat AfriForum sy dokumentêr Gauteng’s landfill time bomb vrygestel het, het die dreigende krisis waaroor die organisasie gewaarsku het, nou waar geword: in Johannesburg het die “vullisterrein-tydbom” gebars.
Slegs twee van dié stad se vier groot vullisterreine aanvaar tans huishoudelike afval, wat lei tot wydverspreide vertragings in vullisverwydering, met inwoners wat die gevolge van opgehoopte rommel op sypaadjies in die gesig staar.
Volgens ’n berig in The Citizen aanvaar die Ennerdale- en Marie Louise-vullisterreine nie meer huishoudelike afval nie, wat slegs Goudkoppies en Robinson Deep ten volle operasioneel laat. Vragmotors van noordelike depots moet nou afval in die suide weggooi, wat verkeersopeenhopings, lang omkeertye en onvolledige versamelrondes veroorsaak.
Hierdie verwikkeling is nie onverwags nie. In Mei 2025 het AfriForum sy kommer uitgespreek nadat die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit in ’n aanbieding aan die parlement onthul het dat die gemiddelde oorblywende lewensduur van sy vullisterreine ongeveer twee jaar was. Die geprojekteerde sluitingsdatums was duidelik: Marie Louise teen April 2025, Ennerdale teen Julie 2026, Robinson Deep teen November 2026 en Goudkoppies teen Maart 2028. Die waarskuwingstekens was in die metro se eie vooruitskattings.
AfriForum se dokumentêr het hierdie trajek uitgelig. Die metro en Pikitup is genooi om aan die dokumentêr deel te neem, maar het geweier. In plaas daarvan om in die openbaar te praat oor die strukturele beperkings wat die metro in die gesig staar, word inwoners nou gekonfronteer met die sigbare ineenstorting van nóg ’n basiese munisipale diens.
In sy kommentaar op die Konsep Nasionale Afvalbestuurstrategie 2026 het AfriForum gewaarsku dat planne op papier nie ’n krisis sal afweer nie. Terwyl die metro voorstelle uiteengesit het om die lewensduur van vullisterreine te verleng en alternatiewe fasiliteite te ontwikkel, het tyd hierdie beloftes ingehaal. Wat nou nodig is, is deursigtige verslagdoening oor vullisterreine se oorblywende kapasiteit, bekwame bestuur, finansiële dissipline en meetbare implementering van intervensies. Aksies – nie planne nie – gaan verhoed dat afval verder in Johannesburg se strate ophoop.
“Die metro was duidelik bewus van die oorblywende lewensduur van sy vullisterreine. Toe daardie inligting verlede jaar aan die parlement voorgelê is, moes dit dringende optrede aangespoor het. In plaas daarvan word vullisverwydering nou ontwrig omdat die kapasiteit van die stad se vullisterreine nie tred gehou het nie. Dit is nie ’n skielike noodgeval nie, maar die gevolg van jare se bestuursmislukking,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
Johannesburg ly reeds swaar onder gereelde water- en kragonderbrekings, verbrokkelende paaie en stedelike verval in die middestad. Mislukkings in afvalbestuur dra nou by tot ’n patroon van gebrekkige basiese dienste wat inwoners se gesondheid en waardigheid ondermyn.
AfriForum sal voortgaan om druk uit te oefen vir verantwoordbaarheid, deursigtige verslagdoening oor vullisterreine se kapasiteit en vordering met intervensies, en aandring op groter betrokkenheid van die privaatsektor by afvalbestuur – wat dringend nodig is. Johannesburg se inwoners verdien ’n metro wat sy mees basiese grondwetlike verantwoordelikhede kan nakom.



