AfriForum eis onafhanklike oudit van brandstofprys te midde van wêreldwye krisis

Ernst van Zyl (Afrikaans)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n brief aan Enoch Godongwana, minister van Finansies, gerig waarin ’n onafhanklike oudit van die brandstofprys en -heffings geëis word. Dit sluit die algemene brandstofheffing in, asook die koolstofbrandstofheffing en die Padongeluksfondsheffing. Die oudit behoort te ondersoek hoe hierdie verskillende komponente bereken en toegepas word; of die huidige struktuur doeltreffend, deursigtig en proporsioneel is; waarvoor hierdie fondse aangewend word en hoe doeltreffend dit gebruik word; wat die ekonomiese impak op verbruikers, vervoeroperateurs, die landbousektor en klein ondernemings is; en watter opsies vir volhoubare hervorming beskikbaar is om die druk op ’n reeds oorbelaste bevolking te verlig. AfriForum het ook versoek om deel van so ’n hervormingsproses te wees sodat die organisasie namens verbruikers vertoë kan rig.

AfriForum het in Junie aan die minister geskryf en versoek dat die tydelike verlaging van die algemene brandstofheffing permanent gemaak word of ten minste ver verby die sperdatum van 1 Julie verleng word. Sedertdien het oliepryse hoog gebly en is die wêreldwye energiekrisis steeds nie opgelos nie. AfriForum het reeds in Junie gewaarsku dat ’n kortstondige verlaging bloot die druk op verbruikers, ondernemings en die ekonomie sou uitstel eerder as om hulle te help om dit te vermy.

Petrolpryse het hierdie week verder gestyg en intussen het vervoerkostes steeds ’n rimpeleffek deur die hele ekonomie en landbousektor. Die omstandighede wat die aanvanklike verlaging geregverdig het, het nie verdwyn nie; dit het trouens versleg. AfriForum staan daarom steeds by sy versoek: óf ’n permanente verlaging van die algemene brandstofheffing wat as broodnodige belastingverligting sal dien óf minstens ’n beduidende, tydsgebonde herinstelling van dié verlaging terwyl oliepryse en die geopolitieke risiko hoog bly.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare betrekkinge by AfriForum, het die vertraagde impak op verbruikers en die ekonomie waarteen AfriForum in Junie gewaarsku het, nou gerealiseer. “Dit bly die regering se verantwoordelikheid om huishoudings en die ekonomie so doeltreffend moontlik teen wêreldwye skokke te beskerm en nie bloot die impak daarvan vir ’n paar maande uit te stel nie. ’n Soort belasting wat ’n groot deel van die brandstofprys uitmaak, behoort behoorlik onder die loep geneem te word om moontlike langtermynhervormings te ondersoek,” sluit Van Zyl af.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik