JP Voogt van Kampi vanjaar se Entrepreneur van die Jaar-wenner
JP Voogt, stigter van Kampi.co.za (Kampi), is vanjaar die algehele wenner van AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. Hy is Woensdagaand 11 November tydens ’n trofeeseremonie van dié gesogte kompetisie as die wenner aangekondig, terwyl Ghia Nadel Liebrecht van sak.sak as naaswenner aangewys is.
Die trofeeseremonie het die hoogtepunt gevorm van maande se voorbereiding en ’n mededingende proses waarin entrepreneurs van regoor die land die geleentheid gekry het om hul ondernemings, idees en prestasies ten toon te stel.
Kampi is ’n aanlyn platform wat eienaars van woonwaens met mense verbind wat graag wil kamp, maar nie oor hul eie woonwa beskik nie. Die onderneming het ’n praktiese oplossing gevind vir twee behoeftes: karavane wat dikwels vir groot dele van die jaar ongebruik staan en gesinne wat graag die buitelewe wil geniet sonder die groot aanvanklike koste van ’n eie karavaan.
Die naaswenner, Nadel Liebrecht, het met sak.sak ’n plaaslike onderneming gevestig wat ’n verskeidenheid luukse sakke vervaardig. Haar onderneming is ’n voorbeeld van hoe entrepreneurskap nuwe lewe uit uitdagende omstandighede kan skep, terwyl dit terselfdertyd plaaslike vervaardiging en die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf ondersteun.
Voogt ontvang ’n kontantprys van R50 000 (geborg deur V8 Media), bemarkingskrediete ter waarde van R50 000 van V8 Media, mediablootstelling ter waarde van R35 000 op Maroela Media se webtuiste, twee nagte se verblyf by Le Franschhoek Hotel & Spa in Franschhoek ter waarde van R13 000 en ’n jaar se lidmaatskap by AfriForum Sakenetwerk. Daarbenewens ontvang hy deur Steyn IP ’n handelsmerkportefeulje vir sy onderneming se korporatiewe identiteit ter waarde van R150 000.
“Dit is baie opwindend en ’n groot eer om as wenner van die kompetisie aangewys te word. Die pryse is fenomenaal – ek gaan dit beslis kan aanwend om my onderneming na die volgende vlak te neem,” het Voogt na afloop van die aankondiging gesê.
Die ander vier finaliste in die topvyf ontvang elk handelsmerkbeskerming ter waarde van R15 000, wat ook moontlik gemaak is deur Steyn IP, en ’n jaar se lidmaatskap by AfriForum Sakenetwerk. Só ontvang al vyf finaliste praktiese ondersteuning om hul ondernemings verder te ontwikkel en te beskerm.
Buiten Voogt en Nadel Liebrecht het die topvyf uit Annerie Potgieter van Purpose & Proverbs, Hanroe Erasmus van Genade Shoppie en Mario Labuschagne van MyHelper.co.za bestaan.
Volgens Deon de Jager, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, was die gehalte van vanjaar se inskrywings baie hoog.
“Die kompetisie was werklik straf hierdie jaar. Ons het uitstekende gehalte-inskrywings ontvang, wat die beoordelaars se taak besonder moeilik gemaak het,” sê De Jager.
Volgens De Jager speel entrepreneurs ’n baie belangrike rol in ons land se ekonomie. “Hulle skep werk, ontwikkel vaardighede, ondersteun verskaffers en ander ondernemings en help om geld en geleenthede binne gemeenskappe te hou. Agter elke onderneming is daar mense en gesinne wie se lewens deur daardie onderneming geraak word. Wanneer ons plaaslike ondernemings ondersteun, help ons dus om ons gemeenskappe ekonomies sterker te maak.”
AfriForum Sakenetwerk het vanjaar doelbewus gepoog om die waarde-aanbod van die kompetisie te verhoog. Alle deelnemers het toegang tot ses aanlyn meesterklasse ontvang, terwyl die vyf finaliste ’n verdere vyf meesterklasse in persoon bygewoon het.
“Ons wou hê alle deelnemers moet méér as net ’n inskrywing en ’n moontlike prys uit die proses kry. Ons hoop dat elke deelnemer met nuwe kennis en ’n waardevolle ervaring uit hierdie proses wegstap,” sê De Jager.
* Die kompetisie is vanjaar in samewerking met V8 Media en Steyn IP as hoofborge, asook ander borge, aangebied.



