|

Kampi bring gesinne sonder hul eie karavane om kampvure bymekaar

Deur Ischke van Eeden

Kampi.co.za (Kampi) se bestaan spruit nie uit ’n groot droom nie, maar eerder uit ’n onopgeloste probleem wat Jean-Pierre (JP) Voogt, stigter van dié unieke onderneming, in die kampwêreld raakgesien het: duisende karavane wat ’n groot deel van die jaar nie gebruik word nie en waarvan die waarde daal. Daarteenoor is daar soveel gesinne wat graag sal wil kamp, maar nie ’n karavaan kan bekostig nie of eers een wil huur voordat hulle een koop.

“Dit het nie as ’n plan begin om ryk te word nie, maar eerder as ’n manier om meer gesinne om kampvure te kry. Niemand wil eintlik ’n karavaan hê nie – hulle wil ’n naweek weg hê,” sê Voogt.

Ons verhuur nie karavane nie – ons help mense om te gaan kamp.

JP Voogt, stigter en mede-eienaar van Kampi.co.za

Voogt is hoof van ’n dataspan by ’n groot onderneming. Die afgelope 15 jaar bou hy stelsels wat mense se geld en bates veilig hou. Met dié kennis het hy Kampi in 2021 begin – ’n platform wat dit vir mense sonder hul eie karavane moontlik maak om te gaan kamp. Vandag is dié gesinsman van Pretoria een van vanjaar se top 5-finaliste in AfriForum se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie.

By Kampi kan “gewone mense” hul karavaan of kampeerwa aan “ander gewone mense” teen ’n koste uitverhuur, verduidelik Voogt. Terwyl die eienaar van die karavaan ’n inkomste verdien met sy huis op wiele wat op daardie oomblik stilgestaan het, is daar ’n gesin wat dit vir ’n kampvakansie verhuur sonder om self ’n karavaan aan te koop, te sleep en te stoor. Kampi is dus in die eerste plek nie ’n verhuringsmaatskappy met sy eie vloot nie, maar die middelman tussen die huurder en verhuurder.

JP Voogt

“Ons verhuur nie karavane nie – ons help mense om te gaan kamp. Dit klink dalk ’n bietjie soetsappig, maar meer as 6 000 besprekings later werk dit steeds,” sê Voogt.

By Kampi word huurders geverifieer en die deposito word apart van die besprekingsgeld gehou. Waar daar versekering op die bespreking is, keur ’n makelaar die dekking goed voordat die gesin met vakansie vertrek. Indien daar enige skade aan die karavaan is wanneer dit terugbesorg word, hanteer Kampi die nodige prosesse sodat die huurder en verhuurder dit nie self hoef uit te sorteer nie. Boonop kan alles in Afrikaans gebeur. Voogt en sy broer Christaan besit ook Noord Karavane, ’n werkswinkel in Pretoria-Noord, wat die karavane verhuurgereed kry en die oorhandigings doen. Vir diegene wat nie self ’n karavaan wil sleep nie, is daar eienaars wat die karavaan by die kampplek gaan opslaan.

Tans is daar is meer as 470 karavane en kampeerwaens op Kampi geregistreer, wat aan meer as 300 eienaars in al nege provinsies van Suid-Afrika en in meer as 100 dorpe – van Pretoria tot Mosselbaai, en selfs ’n paar in Namibië ook – behoort. Die meeste van die karavane op die platform is in Gauteng en die Wes-Kaap geleë. Die onderneming se volgende groot doelwit is om doelgerig karavaan-eienaars in KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Oos-Kaap te werf omdat dié provinsies genoegsame kampplekke het, maar ’n tekort aan karavane.

Tot nou toe het byna 5 000 verskillende huurders byna 34 000 nagte in iemand anders se karavaan deurgebring. Dit is gesinne wat nie ’n karavaan kon of wou koop nie, maar wel kon kamp. Aan die anderkant het meer as 400 karavaan-eienaars ’n inkomste verdien uit iets wat onder ’n afdak gestaan het.

Intussen is daar reeds meer as 340 kampvakansies tot in Oktober 2027 op Kampi bevestig.

“Ek wil hê dat elke Suid-Afrikaanse gesin wat wil gaan kamp nooit weer hoef te wonder of hulle ’n karavaan kan bekostig nie. Hulle moet net wonder waarheen om te gaan,” sluit Voogt af.

* Die wenner van AfriForum se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie word op 11 November aangekondig.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf