Meer as 77 000 ongeplaaste leerders snoeker gesinne en skole, sê AfriForum
Die groot aantal graad 1- en graad 8-leerders in Gauteng wat steeds nie vir die 2027-skooljaar geplaas is nie, plaas volgens AfriForum onnodige druk op elke leerder, ouer en skool wat op die Gautengse Onderwysdepartement wag om die plasings te finaliseer.
Lebogang Maile, LUR vir Onderwys in Gauteng, het op 15 November onthul dat 77 464 leerders steeds ongeplaas is, waarvan 31 277 graad 1-leerders is en 46 187 graad 8-leerders. Hoewel die Gautengse Departement van Onderwys reeds 267 742 leerders geplaas het, is AfriForum bekommerd oor die beperkte tyd wat oorbly vir die 2026-skooljaar om die uitstaande plasings af te handel voordat die nuwe skooljaar in Januarie 2027 begin.
Volgens die departement is daar nog 139 024 plekke vir leerders by skole beskikbaar. Die uitdaging is egter dat hierdie plekke nie noodwendig in die gebiede geleë is waar die grootste aanvraag bestaan nie. Dit waarborg boonop nie dat leerders toegang tot skole binne ’n redelike afstand van hul woonplekke gaan kry nie.
“Die onsekerheid rondom skoleplasings het verreikende gevolge vir ouers en leerders. Ouers wat steeds op plasings wag, kan nie met sekerheid finansieel vir die nuwe skooljaar beplan nie. Uitgawes soos skooluniforms, skryfbehoeftes, vervoer en moontlike naskoolse sorg hang dikwels af van die skool waar ’n kind uiteindelik geplaas word. Daarbenewens veroorsaak die onsekerheid onnodige emosionele spanning vir gesinne. Die aanloop tot ’n nuwe skooljaar moet ’n tyd van opgewondenheid en voorbereiding wees, nie een wat bekommernisse wek oor waar leerders uiteindelik gaan skoolgaan nie,” sê Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum.
AfriForum beklemtoon verder dat plasings wat laat gemaak is ook druk op skole plaas. Skole moet betyds vir die volgende jaar se leerdergetalle, klasgroottes, personeelbehoeftes, handboeke en ander onderrighulpbronne kan beplan. Wanneer groot getalle leerders eers kort voor die aanvang van die skooljaar geplaas word, kan dit skole se voorbereiding en die begin van die akademiese jaar bemoeilik.
“Hoewel die Onderwysdepartement in Gauteng skynbaar vordering met die plasings maak, kan die sukses van die proses slegs gemeet word aan die aantal leerders wat betyds by openbare skole geplaas is,” sê Bloem.
“Die departement moet daarom dit duidelik maak hoe en teen wanneer die oorblywende leerders geplaas sal word. Die departement behoort ook gereeld opgedateerde plasingsyfers per onderwysdistrik bekend te maak, veral in gebiede waar skole reeds hulle volle kapasiteit bereik het.”
Ouers wat steeds uitdagings met die plasingsproses ervaar is welkom om AfriForum te kontak deur ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za te stuur.
Belangrike sperdatums vir ongeplaaste leerders:
| Alternatiewe plasings | 2 November 2026 – 20 November 2026 |
| Besware | 2 November 2026 – 1 Desember 2026 |
| Appèlle | 2 November 2026 – 15 Desember 2026 |
| Verwerking van onvolledige aansoeke | 23 November 2026 – 4 Desember 2026 |
| Laat aansoeke | 4 Desember 2026 – 31 Januarie 2027 |



