|

Fanus Rautenbach: Die president van Flinkveria en die man agter ‘Staal Burger’

Deur Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum

Gesels met enige Afrikaanssprekende wat in die 1960’s en 1970’s grootgeword het, en die kans is goed dat hulle soggens voor skool voorberei het met die radioprogram Flink uit die vere in die agtergrond. Die skepper en aanbieder daarvan was die legendariese Fanus Rautenbach, wat vanjaar sy 98ste verjaarsdag sou vier. Nie net was hy vir Flink uit die vere verantwoordelik nie, maar ook vir ander ikoniese radioprogramme soos Staal Burger en Vra vir Fanus, plus TV-programme, insluitend Nuustak en Wysneusnuus.

Grootwordjare

Fanus is op 23 September 1928 in Lichtenburg gebore, waar sy ouers met aartappels geboer het. Hy was die middelste kind van sewe. Toe hy vier jaar oud was, het die gesin na Johannesburg verhuis. Dit was die tyd van die Groot Depressie. Soos vele ander het hulle probeer om in die stad ’n beter bestaan te maak, maar gespartel om te oorleef. Sy pa het handearbeid vir die munisipaliteit verrig, byvoorbeeld om sypaadjies en paaie te help bou en rioolslote te grawe.  

Fanus het aan die Hoër Seunskool Helpmekaar (die hedendaagse Helpmekaar Kollege) in Braamfontein gematrikuleer en daarna ’n onderwysdiploma aan die Normaalkollege in Pretoria verwerf. Tydens vakansies het hy onder meer as kelner op treine gewerk om sy studies te betaal.  Later het hy aanvullende vakke geneem om uiteindelik ’n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria te behaal. Hy het skoolgehou by die plaasskole van Elandslaagte en Laersdrift, Laerskool Generaal De la Rey in Westdene en Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal.

Fanus: Die draaiboekskrywer en SAUK-omroeper

Ná ’n kort tyd as draaiboekskrywer vir die Christelike Afrikaanse Rolprent- en Fotografiese Organisasie (Carfo), lê hy ’n stemtoets af en word in 1955 as omroeper deur die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) aangestel. Daar ontmoet hy sy vrou, Douwlina Grobler (ook bekend as Vroutjie Douwtjie), en doen baanbrekerswerk deur die eerste inbelprogram in die land aan te bied. Fanus en Douwlina is in 1957 getroud en het twee seuns gehad.

Boeke uit Fanus Rautenbach se pen

As kreatiewe gees het hy in dié tyd ’n paar loopbaanskuiwe gemaak – hy het die SAUK verlaat en kortverhale geskryf, ’n tydskrif begin (wat helaas misluk het) en as vryskutjoernalis en kopieskrywer gewerk.

Van sy skryfwerk het onder die skuilname Mot en Fanus Bach verskyn. Hy het lewenslank volgehou dat sy kop vol stories was wat net móés uit!

Fanus: Die president van Flinkveria

In 1961 het hy na die SAUK teruggekeer en vanaf 16 Oktober van dié jaar tot 1974 die bogenoemde Flink uit die vere aangebied. Luisteraars is tot burgers van die “Republiek van Flinkveria” verklaar en natuurlik was Fanus die president daarvan. Toe Flink uit die vere in 1971 sy tiende jaar op die lug betree, is dit met ’n fees by Bronkhorstbaai naby Bronkhorstspruit gevier. Sowat 20 000 mense het opgedaag om hierdie mylpaal saam met hulle geliefde radioman te herdenk.

Flink uit die vere het oplaas ten einde geloop om plek te maak vir die veel ernstiger aktualiteitsprogram, Monitor. Hierna het die middaginbelprogram Vra vir Fanus gevolg. Deesdae is ons gewoond aan ’n span aanbieders vir programme, maar beide met Flink uit die vere en Vra vir Fanus was hy alleen op die lug – ’n merkwaardige prestasie. Hy was deurentyd ook verantwoordelik vir die skryf, vervaardiging en aanbied van vermaakprogramme, vervolgverhale, radiodramas en hoorbeelde, asook kortverhale, humorboeke en selfs outobiografiese publikasies wat hy “stoutobiografieë” genoem het. Verder was hy ook ná sy vertrek van RSG by Radio Jakaranda, Radio Oos-Rand en Suid-Kaap Stereo werksaam – die radiowese was nou maar eenmaal in sy bloed.

Fanus: Die humoris

Soms was sy humor effens té stout vir sommige luisteraars en is hy oor die vingers geraps of selfs geskors. Oor die algemeen het sy humorsin nie in almal se smaak geval nie – van die grappe was baie laf, maar tog het hy homself as ’n humoris beskou, en nie as ’n lawwe grapjas nie. Woordspeling en dubbelsinnige betekenisse was sy forté.

Video: Fanus Rautenbach op Spies en Plessis

Al dink ’n mens noodwendig eerste aan humor en spitsvondige taalgebruik wanneer jy sy naam hoor, het hy veral met die hoorbeeld Die Hemelkinders sy ernstige en deernisvolle kant gewys. Dit het oor mense met Down se sindroom gehandel en is die eerste keer in 1979 uitgesaai. Tot in daardie stadium was mense in die land baie onkundig oor dié sindroom. Kinders en volwassenes met dié Down se sindroom is dikwels uit die samelewing gehou, of met vooroordele behandel. Die hoorbeeld het ’n reuserol gespeel daarin om bewusmaking oor die werklike feite te skep. Dit is met ’n Artes-toekenning bekroon.

Daar was ook vele ander toekennings. In 2007 is hy met 27 000 stemme as RSG se radiolegende van die voorafgaande 70 jaar aangewys. Verder het instellings soos die FAK en Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ook eerbewyse aan hom betoon.

Fanus se invloed op Afrikaans

As skrywer en aanbieder het Fanus ’n groot invloed op die ontwikkeling van Afrikaans gehad. Sy ervaring as kopieskrywer het hom bewus gemaak van die noodsaak vir treffende, kort en kragtige teks en dus was hy gedurig op soek na nuwe Afrikaanse woorde vir alledaagse dinge.

Só was hy skynbaar verantwoordelik vir die ontstaan van die woorde “kitskoffie” en “bromponie”, om net enkele voorbeelde te noem.

As liriekskrywer was hy onder meer verantwoordelik vir die woorde van bekende Afrikaanse liedjies soos “Hier by jou” van Louis van Rensburg en “Moenie weggaan nie”, die Afrikaanse weergawe van Jacques Brel se “Ne me quitte pas” wat deur Laurika Rauch opgeneem is.

Fanus is op 29 Januarie 2011 op 82-jarige ouderdom in Kaapstad oorlede. Die burgers van die Republiek van Flinkveria sal altyd terugverlang na sy welluidende stem wat ons oggende met ’n lekker lag afgeskop het!

(Taalheld 9 van 2026)

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners