| |

The Perfect Blendship bring Kersmusiek met gevoel dié November

The Perfect Blendship, bariton Douwe Bijkersma en mezzo-sopraan Lanie Coetzer, betree op 28 November die verhoog by AfriForum Teater om ’n besondere Kersbelewenis te bring. Dié duo beloof om saam met professionele gaskunstenaars en twee uitnemende kore ’n betowerende ervaring vir jonk en oud te lewer. 

Die Kersgevoel strek egter met hierdie vertoning veel verder as net musiek. The Perfect Blendship gaan ook vir elke gehoorlid die geleentheid gee om deel te wees van hul “Koevertjie vir ’n kind”- inisiatief ten bate van die President Kruger Kinderhuis. Hierdie inisiatief behels dat mense kontantbydrae kan lewer waarmee ’n “Krismiskous” gevul kan word op konsertdag. Hierdie bydrae sal ’n reuse verskil in kinders se lewens maak hierdie Kersseisoen.

Douwe Bijkersma en Lanie Coetzer

AfriForum Teater skop die projek af deur self die eerste 10 koevertjies in die “Krismiskous” te gooi en daag ook ander teaters, kultuurinstellings, organisasies en ondernemings uit om deel te neem aan dié inisiatief.

EFT-bydraes is ook welkom en kan gemaak word deur te skakel met Major Music Promotions (Pty) Ltd by info@majormusic.co.za.

“Die verhoog behoort nie net ’n plek te wees waar ons kultuur vier nie, maar ook ’n plek vanwaar ons na ons gemeenskap uitreik. Met hierdie projek wil ons die Kersgevoel omskep in iets tasbaars – ’n gebaar wat ’n kind laat weet dat daar aan hom of haar gedink word,”  sê Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater.

Kersfees saam met The Perfect Blendship is dus meer as ’n middag van uitsonderlike musiek. Dit is ’n uitnodiging om saam te sing, saam te vier én saam te gee.

Die besonderhede is soos volg:

Datum: 28 November 2026

Tyd: 15:00

Plek: AfriForum Teater

Kaartjies: Beskikbaar by www.afriforumteater.co.za

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners