|

Hofoorwinning vir AfriForum en ander partye: Matriekuitslae mag gepubliseer word

Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)
Klankgreep: Alana Bailey (Engels)

AfriForum verwelkom die hofuitspraak wat bevestig dat matriekuitslae wel op openbare platforms gepubliseer mag word en beskou dié besluit as ’n oorwinning vir al die betrokke partye, maar veral vir die beskerming van openbare belange. In die uitspraak wat vanoggend deur ’n volbank regters gelewer is, word bevind dat die Inligtingsreguleerder (IR) se argument dat leerders mekaar se eksamennommers gaan memoriseer om mekaar se uitslae te bestudeer, onrealisties is. Die uitspraak bevestig dat die bekendmaking van uitslae op openbare platforms met slegs eksamennommers in plaas van name, voldoende beskerming vir die matrikulante se privaatheid bied. ’n Kostebevel is ook ten gunste van AfriForum en mediahuise, wat respondente in die saak was, uitgereik.

Die saak oor die bekendmaking van matriekuitslae in koerante en op ander openbare platforms, is op 27 en 28 Oktober 2025 in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het die geskil oor die openbare bekendmaking van matriekuitslae in 2022 begin toe die Departement van Basiese Onderwys (DBO) dit probeer verbied het. In regsaksie wat gevolg het, het die regter AfriForum en die ander betrokke partye destyds gelyk gegee dat die bekendmaking van die uitslae in openbare belang is en daarom moet voortgaan.

Aan die einde van verlede jaar het die IR probeer verhoed dat die DBO die 2024-matriekuitslae bekend maak. Die IR se aansoek om ’n interdik daarteen te verkry, het egter misluk, waarna hierdie saak oor die meriete gevolg het.

Volgens Bailey versoek matrikulante AfriForum gereeld om te help verseker dat hulle hul uitslae steeds in die media sal kan kry soos in die verlede. In dié saak was dit ook nodig om meer duidelikheid te verkry oor wanneer individue se privaatheid ten alle koste beskerm moet word, en wanneer bekendmaking van inligting in openbare belang is. “Die uitspraak in hierdie saak dra by tot meer sekerheid hieroor,” sê Bailey. “Vanjaar se matrieks en dié in die toekoms sal steeds toegang tot hulle uitslae hê en AfriForum is dankbaar dat ons hulle regte in hierdie verband kon beskerm.”

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf