Water, kraan, kraanwater
| | |

AfriForum staan sterk teen Mangaung-metro se voorgestelde tariefverhogings te midde van infrastruktuurverval

AfriForum het op 29 April in ’n brief beswaar aangeteken teen die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se voorgestelde water- en tariefverhogings vir die 2026/2027-boekjaar. Hierdie beswaar volg op skokkende bewyse van grootskaalse waterverliese en die metro se volgehoue versuim om kritieke infrastruktuur behoorlik te onderhou.

In die brief doen AfriForum ’n beroep op die Mangaung-metro om dringend infrastruktuur te herstel en te onderhou, waterverliese daadwerklik te bekamp en deursigtige, verantwoordbare bestuur toe te pas. Totdat tasbare vordering gemaak word, sal AfriForum voortgaan om enige onregverdige tariefverhogings teen te staan.

Volgens beskikbare syfers het die Mangaung-metro oor die afgelope paar jaar meer as R1,6 miljard se water verloor weens lekkasies, vervalle infrastruktuur en swak instandhouding. Hierdie verliese het drasties toegeneem – van ongeveer R186 miljoen in die 2018/2019-boekjaar tot meer as R454 miljoen in die 2022/2023-boekjaar. Verdere inligting dui daarop dat byna die helfte van die metro se water verlore gaan weens voorkombare probleme soos lekkasies, onwettige aansluitings, foutiewe meters en infrastruktuur wat besig is om in duie te stort.

Ten spyte hiervan probeer die metro nou om beduidende tariefverhogings op inwoners en ondernemings af te dwing. Hierdie verhogings, insluitend skerp stygings in watertariewe en basiese heffings, sal verdere finansiële druk op reeds sukkelende huishoudings en ’n brose plaaslike ekonomie plaas.

Luidens AfriForum is dit onaanvaarbaar dat inwoners finansieel gestraf word vir die munisipaliteit se volgehoue wanbestuur, nalatigheid en onvermoë om sy kernverantwoordelikhede na te kom.

“Die werklikheid is dat inwoners gevra word om meer te betaal vir minder, terwyl miljoene rande se water vermors word weens lekkasies wat nie herstel word nie. Dit is nie net ’n finansiële kwessie nie – dit raak die menswaardigheid van gemeenskappe. Mense verloor vertroue in ’n stelsel wat geen aanspreeklikheid toon nie,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.

AfriForum beklemtoon verder dat die voortgesette verval van infrastruktuur ’n duidelike teken is van ’n totale bestuursineenstorting in die metro. In plaas daarvan om hierdie probleme daadwerklik op te los, word die las eenvoudig op die skouers van inwoners geplaas.

“Daar is ’n groeiende gevoel van frustrasie en moedeloosheid onder inwoners. Gemeenskappe worstel daagliks met waterprobleme, stygende kostes en swak dienslewering, terwyl die metro sy pligte versaak. Hierdie optrede wys dat daar geen werklike agting vir die publiek se welstand of menswaardigheid is nie,” sluit Groenewald af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf