GOP: Vryheid-munisipaliteit moet dienslewering prioritiseer
Die AfriForum-tak in Vryheid doen ’n beroep op die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit om dienslewering in Vryheid gedurende die nuwe finansiële jaar (2026/2027) te prioritiseer. Dié dorp se pad-, water- en elektrisiteitinfrastruktuur het veral die afgelope paar jaar agterweë gebly. Die tak het op 10 April hierdie skriftelike voorstelle met betrekking tot dienslewering op die Abaqulusi-munisipaliteit se jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) ingedien.
AfriForum het al in die verlede sukses behaal met van sy voorstelle wat in die munisipaliteit se GOP opgeneem en afgehandel is, waaronder een van Vryheid se swak paaie wat herbou is. “Dit is dus belangrik dat takke aan die GOP-proses deelneem om voorstelle in te dien wat sal bydra tot ontwikkeling in hul gemeenskappe,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.
Dienslewering
Vryheid ervaar al vir die afgelope paar jaar gereelde kragonderbrekings, veral op kleinhoewes, wat dit dan ’n teiken vir misdadigers maak. Geen verbetering rakende dienslewering is die afgelope finansiële jaar (2025/2026) in dié klein KwaZulu-Natalse dorpie waargeneem nie. Wat die paaie aanbetref, stel AfriForum voor dat dele van Vryheid se hoofroetes, waaronder Oos-, Suid-, Wes- en Heerenstraat, herbou word.
Verder is dit kommerwekkend dat 52% – wat neerkom op ’n waarde van R19 miljoen – van die Abaqulusi-munisipaliteit se gesuiwerde water volgens die ouditeur-generaal (OG) se verslag verlore gaan. “Hierdie verlies kan net aan onwettige koppelings en hoofsaaklik lekkende waterinfrastruktuur toegeskryf word,” sê André van der Walt, AfriForum se takvoorsitter vir Vryheid.
Die OG se verslag wys verder uit dat 26% – gelykstaande aan ’n waarde van R70 miljoen – van die munisipaliteit se elektrisiteitsverliese aan swak infrastruktuur, onwettige koppelings en kragmeters waarmee gepeuter is, toegeskryf kan word.
Besteding
Volgens die OG se verslag het die Abaqulusi-munisipaliteit R174 miljoen meer gespandeer in die 2023/2024 finansiële jaar as wat ingevorder is en het toe alreeds 10% van die volgende finansiële jaar (2024/2025) se begroting spandeer. Die totale inkomste vir die Abaqulusi-munisipaliteit was R826 miljoen in die 2023/2024 finansiële jaar, waarvan R546 miljoen deur die munisipaliteit gegenereer was. Die Nasionale Tesourie se webtuiste dui aan dat die eiendomsbelastinginkomste vir 2023 en 2024 onderskeidelik R110 miljoen en R138 miljoen was. Die OG verslag wys dat 81% van die munisipaliteit se skuld nie ingevorder is nie. Hierdie wek kommer en daarom die swak dienslewering wat ervaar word. Hierdie fondse kom van eiendomseienaars en is vir tipiese nie-faktureerbare dienste soos om slaggate en straatligte te herstel en sypaadjies en parke in stand te hou.
Die OG-verslag dui verder aan dat die munisipaliteit tydens die 2023/2024 finansiële jaar meer as R434 miljoen se uitgawes verkeerdelik geallokeer het, wat waarskynlik aan wanbesteding toegeskryf kan word. Dit behels meer as R300 miljoen se ongemagtigde uitgawes, R125 miljoen se onreëlmatige uitgawes en R9 miljoen se vrugtelose en verkwistende uitgawes wat aangegaan is.
Luidens die verslag van die OG word daar niekompeterende en onregverdige aankope gedoen. Slegs 4,7% van die begroting was aan onderhoud gespandeer, terwyl die Nasionale Tesourie 8% aanbeveel. AfriForum is bekommerd dat die lae spandering aan onderhoud aan masjinerie en ander toerusting tot die huidige swak dienslewering bydra.
Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van jou naaste AfriForum-tak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.



