|

AfriForum versoek verhoor terwyl Johannesburg-metro steeds vrae oor waterheffing ontduik

Marais de Vaal (Afrikaans)

AfriForum het die waarnemende adjunk-regterpresident van die Johannesburgse Hooggeregshof versoek om ’n spesiale verhoordatum toe te ken vir die burgerregteorganisasie se aansoek waarin die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit se omstrede wateraanvraagbestuursheffing betwis word. Dit volg op die indiening van AfriForum se repliserende eedsverklaring, wat die uitruil van hofstukke afsluit en die weg baan vir die uiteindelike bepaling van die wettigheid van die heffing.

Inwoners van Johannesburg betaal die verhoogde heffing sedert 1 Julie, toe die vaste maandelikse heffing met meer as 65% gestyg het van R65,08 tot R107,74. Tog het die metro nog steeds nie die metodologie of kosteberekeninge bekend gemaak wat verduidelik hoe die bedrag bepaal is of waarom so ’n aansienlike verhoging nodig was nie. Na raming vorder die metro ongeveer R150 miljoen per maand deur die betwiste heffing in, terwyl die wettigheid daarvan steeds bevraagteken word.

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, frustreer die metro se optrede sedert die begin van die dispuut die organisasies se pogings om antwoorde en sekerheid oor die heffing te kry.

“Tydens die openbare deelnameproses vir die 2026/2027-begroting het die metro geweier om die onderliggende metodologie te verskaf en eerder AfriForum aangesê om ’n uitgerekte PAIA-proses te volg. Na die aanvang van litigasie, het die metro volgehou dat die kwessie hoogs tegnies is en dat hy meer tyd gegun moet word om sy antwoord voor te berei. AfriForum het ’n vergunning gemaak sodat die metro sy antwoordende eedsverklaring kon aanvul, maar die beloofde aanvullende verklaring is nooit ingedien nie,” sê De Vaal.

“Die metro trek effektief voordeel uit die weerhouding van inligting en die vertraging van die einste verrigtinge wat hul besluit aan behoorlike geregtelike ondersoek kan onderwerp. Intussen bly die kosteberekening agter die 65,6%-verhoging onbekend en die inwoners van Johannesburg het steeds geen sekerheid oor of die heffing wat elke maand van hulle ingevorder word, wettig is nie.”

AfriForum het die Hooggeregshof oorspronklik op ’n dringende basis genader voordat die heffing in werking getree het. Op 23 Junie het die hof bevind dat die saak nie dringend genoeg was nie, maar geen beslissing oor meriete gemaak nie en AfriForum se vrae oor die wettigheid van die heffing moet dus nog beoordeel word.

AfriForum het nou versoek dat die saak aan die spesiale mosiehof toegewys word. Die organisasie hou vol dat die dispuut sonder verdere vertragings aangehoor moet word.

“Hierdie saak gaan nie verdwyn bloot omdat die metro kies om dit te systap nie. Wanneer ’n munisipaliteit openbare mag uitoefen, moet hy dit wettiglik doen en rekenskap gee van die besluite wat hy neem. Die metro kan nie daardie aanspreeklikheid vermy deur vertraging of stilswye nie. AfriForum is van voorneme om hierdie saak deur te sien totdat die wettigheid van die heffing finaal bepaal is,” sluit De Vaal af.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf