AfriForum-takke draf 111 gemeenskapsprojekte kaf binne net twee maande
Deur Ilze Nieuwoudt
Wat het 395 liter verf, 18,75 ton teer, 3 089 sakke vullis en 324 hektaar gesnyde gras in gemeen? Onder normale omstandighede seker nie veel nie, maar by AfriForum se takke wat in elke uithoek van die land woel om as gemeenskapsbouers hul gemeenskappe skoner, veiliger en mooier te maak, is dit tekens van harde werk én ’n reuseverskil.
AfriForum se takke het, volgens data wat tot dusver ingesamel is vir Januarie en Februarie, ’n totaal van 111 gemeenskapsprojekte aangepak wat strek vanaf projekte wat fokus op die herstel van slaggate, die verf, vervang of herstel van padtekens en padmerkers, vullisverwydering, herwinning, veiligheidsoudits by skole en vele meer.

As gemeenskapsorganisasie weet plaaslike takke presies waar die haakplekke in dorpe en woonbuurte is en dryf dan projekte om juis dié probleme te teiken. Forum Nuus het gaan aanklop by die onderskeie AfriForum-streke om uit te vind watter projekte reeds vanjaar aangepak is om gemeenskappe op ’n sigbare wyse te bou.
Sentraalstreek
In die sentrale deel van die land – wat die Vrystaat, ’n gedeelte van Noordwes en KwaZulu-Natal insluit – is 36 projekte aangepak in onder meer Bethlehem, Bloemfontein, Klerksdorp, Kroonstad, Vryheid en Zeerust.
In die Rosestad, waar AfriForum spog met sy eie vullisverwyderingsdiens, is meer as 107 ton vullis in Januarie en Februarie verwyder, terwyl nagenoeg 800 kg vullis ook in Bethlehem verwyder is. Wanneer dit kom by grassnyprojekte, het dié streek se buurtspanne en takke in onder meer Sasolburg, Vryburg, Rustenburg, Christiana en Klerksdorp die bossiekappers met mening ingespan en 153 hektaar gras in parkies en ander openbare groenstroke gesny. ’n Totaal van 10 ton teer is ook in dié streek ingespan om slaggate te herstel in Kroonstad, en in Bloemfontein het die jonger generasie ook hul deel gedoen toe AfriForum Jeug in Februarie ’n slaggatprojek in Hospitaalpark aangepak het.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, is dié projekte ’n bewys dat gemeenskappe nie net kan kla oor swak dienslewering nie, maar self kán opstaan en ’n verskil maak. “Wanneer mense saamstaan en verantwoordelikheid vat vir hul omgewing, kan ons dorpe weer plekke word waarop ons trots kan wees,” verduidelik hy.
Noordstreek
In die noordstreek (met sy takke in Mpumalanga, Limpopo en Gauteng) is 57 projekte aangepak. Een van die streek se vlagskipprojekte is beslis sy herwinningstasie in Centurion waar daar gedurende die eerste twee maande van die jaar meer as 56 ton se afval hanteer en herwin is.
Die streek beskik tans oor tientoegewyde werkspanne, bekend as buurtspanne, wat op ’n voltydse basis instandhoudings- en skoonmaakprojekte hanteer. Volgens Arno Roodt, AfriForum se streekshoof vir die noordstreek, is daar reeds 65 stelle hande wat daagliks as deel van hierdie spanne werk in Bethal, Centurion, die Pretoriase Moot, Krugersdorp, die noorde van Pretoria, Pretoria-Oos, Secunda, Vanderbijlpark, Mbombela (Nelspruit) en eMalahleni-Middelburg (Witbank-Middelburg). Die konsep van buurtspanne is beproef en het reeds bewys dat dit ’n reusebydrae tot die kapasiteit van gemeenskapsaksies byvoeg. Daarom beoog takke in dié streek om binne die volgende paar maande die vermoë selfs verder uit te brei en buurtspanne in onder meer Polokwane (voorheen Pietersburg), Boksburg, Kempton Park en die noorde van Johannesburg aan te stel.
“AfriForum se buurtspanne is ’n praktiese bewys dat gemeenskappe nie hoef te wag vir ’n staat wat toenemend faal nie. Deur voltydse spanne in ons dorpe te vestig, bou ons doelbewus aan gemeenskapselfstandigheid en wys dat georganiseerde gemeenskappe self kan herstel en beskerm om eindelik self te kan veg en bou,” meen Roodt.
Suid- en die Noord-Kaap-streek
In die suid- en Noord-Kaapstreke het AfriForum gedurende Januarie en Februarie ook sy stempel afgedruk in gemeenskappe en nagenoeg 20 verskillende projekte aangepak.
In Knysna – ’n gemeenskap wat tans baie druk ondervind weens swak munisipale bestuur – het die plaaslike AfriForum-buurtspan onder meer sowat 5 ton sand uit strate verwyder, 150 kg teer ingespan om slaggate te herstel en bykans 300 liter verf gebruik vir die verf van padmerkers. Verskeie ander opknappingsaksies en verfraaiing van openbare stroke is in onder meer Gordonsbaai, die Cederberg-gebied en in die Helderbergkom aangepak, terwyl ’n noodwaterpunt by Laerskool Gansbaai opgerig is en 200 geelhoutbome in dié tyd aan Jeffreysbaai geskenk is.
Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se streekshoof vir die suidstreek (wat die Oos- en Wes-Kaap insluit), is dienslewering in die algemeen nog baie goed in dié streek. Hy waarsku egter dat “die agteruitgang van Knysna – die sogenaamde juweel van die Tuinroete – ’n teken is van dit wat kan wag op ander dorpe in ons streek as ons nie waaksaam is nie”. AfriForum pak daarom met mening verskeie projekte hier aan om verval wat nou aangeteken word, suksesvol teë te werk.
AfriForum se fokus op steun aan Afrikaanse skole is ook in die suidstreek sigbaar. Die organisasie se takke pak daarom nie net aksies, soos skoleveiligheidsoudits, aan wat tot voordeel van skole self is nie, maar poog ook om die saadjie van verantwoordelike gemeenskapsbouers onder ’n volgende generasie te saai. “’n Selfstandige gemeenskap, is ’n sterk gemeenskap en daarom streef AfriForum in dié gebied daarna om selfdoenprojekte en die waarde daarvan ook by jongmense tuis te bring,” sluit Ferreira af.
Skole as spilpunte in gemeenskappe
Sampie Steinberg, AfriForum se hoof van Gemeenskapsake, stel dit duidelik dat die twee nasionale skoleprojekte wat vanjaar afgeskop het, naamlik die onderneming van skoleveiligheidsoudits en opknappingsprojekte rondom skole, ’n tasbare manier is waarop AfriForum Afrikaanse skole, as spilpunte in gemeenskappe, ondersteun. “’n Skool is die spilpunt in ’n gemeenskap. Dit is die plek waar ’n gemeenskap bymekaarkom om sport, kuns, kultuur en ander sosiale geleenthede uit te leef – en hierdie kultuurbakens moet gekoester word.”
Afrikaanse skole wat graag ’n AfriForum-veiligheidsoudit wil laat doen, of versoeke vir opknapping rondom die skool wil rig, kan ’n e-pos stuur na help@afriforum.co.za.



