|

AfriForum se Volksrust-tak rig 64 nuwe stoptekens op binne eerste sewe maande van die jaar

’n Totaal van 64 stoptekens is reeds sedert die begin van die jaar op Volksrust vervang, en steeds is daar géén keer aan AfriForum se Volksrust-tak se pogings om padveiligheid in dié dorp in Mpumalanga te verbeter nie.

Dié projek het die afgelope sewe maande reeds ’n reuseverskil gemaak en in Julie is werksaamhede voortgesit met die oprigting van nege nuwe stoptekens en agt pale. Ses stoptekens is opgerig by Smitstraat se kruisings met Pretorius-, Michaelson-, Chris Hani-, Krogh- en Tontelbosstraat, terwyl die gesteelde stopteken op die hoek van Volk- en Wesstraat en die beskadigde stopteken en paal op die hoek van Kruger- en Louis Trichardtstraat ook vervang is.

Volgens Johan Kennard, voorsitter van AfriForum se Volksrust-tak, bring elke nuwe stopteken wat opgerig of herstel word, Volksrust nader ’n veiliger dorp vir motoriste en voetgangers.

Kennard waarsku egter dat die oprigting en duidelike sigbaarheid van verkeerstekens en padmerkers nie opsigself padveiligheid kan verseker nie en dat veiliger paaie ook afhang van motoriste en voetgangers se nakoming van verkeersreëls. “Motoriste het ’n verantwoordelikheid om die padreëls na te kom en die blatante oortreding van dié reëls – deur onder meer stoptekens te ignoreer – skep lewensgevaarlike situasies vir ander motoriste en voetgangers,” beklemtoon hy.

AfriForum se Volksrust-tak is daarom in gesprek met die plaaslike verkeershoof om die polisiëring van verkeersreëls op dié dorp in die belang van alle padgebruikers op te skerp.    

Raak betrokke

Sluit vandag nog aan by AfriForum se Volksrust-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf