Vertraging in die wateraksieplan beklemtoon werklike krisis: regering se gebrek aan optrede
Ten spyte van aanduidings dat die presidensie se nasionale wateraksieplan gefinaliseer is, is die plan steeds nie aan die publiek bekendgestel nie. AfriForum meen dat die voortgesette vertraging om hierdie plan bekend te maak voorspel dat die grootste swakpunt die implementering van hierdie plan gaan wees.
Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het die parlement op 1 Junie in kennis gestel dat die nasionale wateraksieplan hervormings insluit wat verband hou met verantwoordbaarheid, infrastruktuuronderhoud, batebestuur, finansiële volhoubaarheid, waterbesparing, ondersteuning vir sukkelende munisipaliteite, alternatiewe diensleweringsmodelle en maatreëls om korrupsie te bekamp. Dit dui daarop dat die plan tot so mate ontwikkel is dat lede van die uitvoerende gesag die inhoud daarvan in die openbaar kan opsom. Tot op hede is die plan egter nog nie aan die publiek vrygestel nie.
Die presidensie se versuim om sonder ’n goeie rede die plan te publiseer wakker net onsekerheid aan en ondermyn openbare vertroue dat die regering die waterkrisis met die dringendheid hanteer wat dit vereis.
AfriForum beklemtoon dat die beloofde intervensies weerspieël wat hy en ander toesighoudende instellings, ingenieurs en waterkundiges al jare lank aanbeveel. Byvoorbeeld, die Ouditeur-Generaal se onlangse verslag oor Suid-Afrika se watersektor weerspieël hierdie prioriteite noukeurig, en het swak instandhouding, swak verantwoordbaarheid, onvoldoende institusionele kapasiteit en swak koördinering as die oorsake van die krisis geïdentifiseer.
AfriForum het aan die presidensie geskryf om duidelikheid te eis oor die onverklaarbare vertraging in die publikasie van die plan, ten spyte van herhaalde beloftes deur president Cyril Ramaphosa dat dit voltooi is en vrygestel sal word.
“Die regering se eie onafhanklike grondwetlike waghond het reeds die krisis ondersoek, die verantwoordelike instellings geïdentifiseer en ’n padkaart vir korrektiewe stappe verskaf. As die regering met daardie bevindinge saamstem, moet dit geïmplementeer word. As dit nie daarmee saamstem nie, moet dit verduidelik hoekom. Wat die regering nie kan doen nie, is om voort te gaan om agter nog ’n komitee en nog ’n vertraagde aksieplan weg te kruip terwyl gemeenskappe steeds onder die gevolge van mislukte waterdienste ly,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
Die organisasie voer aan dat die mislukkings wat die land se waterkrisis veroorsaak het, sowel as die korrektiewe maatreëls om dit op te los, goed gedokumenteer is. Inwoners van die land sien egter toenemend ’n patroon waarin die regering op krisisse reageer deur nuwe komitees, taakspanne, indabas, intervensies en aksieplanne aan te kondig, terwyl implementering afwesig bly.
“Die bekommernis is nie ’n gebrek aan kennis nie, maar ’n gebrek aan implementering. Die regering skep toenemend die voorkoms van optrede in plaas daarvan om werklik op te tree. Gemeenskappe sonder water het nie nog ’n komitee of aksieplan nodig nie. Hulle benodig dat lekkende pype herstel word, rioolsuiweringsaanlegte reggemaak word, infrastruktuur in stand gehou word en amptenare aanspreeklik gehou word vir mislukkings,” sê De Vaal.
As jy AfriForum se pogings wil ondersteun om die regering aanspreeklik te hou vir mislukte water- en sanitasiedienste, besoek https://afriforum.co.za/onssalself/waterkrisisportaal/ vir meer inligting.



