Mooirivier
| | | |

AfriForum eis terreinbesoek met MRK en munisipaliteit oor voortdurende rioolstorting in Mooirivier

AfriForum het op 3 Februarie skriftelik aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) versoek dat ’n gesamentlike terreinbesoek met die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit dringend gedoen word oor die voortgesette rioolstorting in die Mooirivier. Die doel van die besoek is om probleemareas soos Poortjiedam, verskillende plekke by die Mooirivier,pompstasies en die rioolpyplyn agter MooiRivier Mall te inspekteer en deeglike ondersoek in te stel.

Dié versoek volg nadat die munisipaliteit op 21 Januarie ’n brief aan die MRK gerig het waarin erkenning gegee word aan die rioolkrisis. Die munisipaliteit het die brief egter nie aan AfriForum – die oorspronklike klaer – gestuur nie ten spyte van herhaalde versoeke om direkte betrokkenheid en terugvoer.

Hoewel AfriForum kennis neem van die munisipaliteit se verwysing na aksieplanne, kontrakteurs en beplande infrastruktuur-opgraderings om die krisis te stuit, bly die werklikheid dat rioolstortings reeds vir jare voortduur en dat gemeenskappe steeds blootgestel word aan ernstige gesondheids-, omgewings- en menseregte-risiko’s.

“Geskrewe versekeringe en planne op papier is nie voldoende nie. Die Mooirivier word steeds besoedel en gemeenskappe dra die gevolge. Sonder onafhanklike toesig, deursigtigheid en fisiese verifikasie kan hierdie beloftes nie as voldoende aanvaar word nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Benewens die terreinbesoek eis AfriForum ook duidelike antwoorde oor die kwalifikasies en voldoeningsstatus van alle aangestelde kontrakteurs en ingenieurs; bewyse dat begrotings formeel goedgekeur en geoormerk is vir alle kort-, medium- en langtermynintervensies; en bindende tydlyne vir voltooiing van projekte met aanspreeklike verslagdoeningsmeganismes.

AfriForum benadruk dat die saak nie net oor dienslewering gaan nie, maar oor die grondwetlike reg op ’n gesonde omgewing, soos vervat in artikel 24 van die Grondwet.

“AfriForum ondersteun volhoubare en wettige oplossings maar kan nie voortgesette vertragings, beperkte deursigtigheid of die uitsluiting van geraakte gemeenskappe aanvaar nie. Die situasie vereis dringende, tasbare optrede – nie nóg beloftes nie,” sê Douglas Bourn, AfriForum se takvoorsitter in Potchefstroom.

AfriForum doen ’n beroep op die MRK en die J.B. Marks-munisipaliteit om hierdie saak met die dringendheid en erns te hanteer wat dit verdien en om sonder verdere versuim datums vir ’n gesamentlike terreinbesoek te bevestig.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing te bewaar en veilig te hou. Kontak Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf