|

Motoriste móét vooruit beplan te midde van moontlike brandstoftekorte, maan AfriForum

AfriForum waarsku dat sekere vulstasies oor die land heen reeds brandstoftekorte ervaar weens die onlangse uitbreking van konflik in die Midde-Ooste. Ontwrigtings in die voorsieningsketting kan moontlik lei tot sporadiese brandstoftekorte op tuisbodem, wat motoriste onkant kan vang indien hulle nie vooruit beplan nie.

AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture ontvang toenemend terugvoer uit verskeie dele van die land dat sommige vulstasies sonder sekere brandstofsoorte, veral diesel, sit of beperkte voorraad het. Hoewel dit nog nie ’n nasionale krisis is nie, kan brandstoftekorte op tuisbodem steeds ernstige ongerief en selfs veiligheidsrisiko’s vir padgebruikers inhou.

AfriForum doen daarom ’n beroep op die publiek om verantwoordelik op te tree en hul reisplanne en brandstofverbruik noukeurig te bestuur.

Jacques Broodryk (Afrikaans)

“Motoriste moet nie wag totdat hul motors bykans geen brandstof in het voordat hulle na ’n vulstasie begin soek nie. In ’n tyd waar daar groot onsekerheid heers oor die voorsiening van brandstof, is dit wys om altyd ’n redelike veiligheidsmarge te handhaaf,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Broodryk waarsku dat om sonder brandstof langs die pad te gaan staan nie net ’n logistieke probleem is nie, maar ook ’n veiligheidsrisiko kan wees – veral op afgeleë paaie of in gebiede wat brandpunte vir misdaad is.

Dít is hoe AfriForum voorstel motoriste hulself kan beveilig:

  • Hou motors se brandstoftenk minstens halfvol waar moontlik, veral voor lang ritte.
  • Beplan roetes vooruit en maak seker waar die volgende betroubare vulstasies is.
  • Vermy onnodige ritte indien brandstof skaars raak in ’n gebied.
  • Hou ’n selfoon gelaai en ’n noodkontaklys byderhand.
  • Parkeer op ’n veilige, sigbare plek indien die voertuig se brandstof opraak en bly waaksaam.
  • Kontak padbystand, die naatse AfriForum-buurtwag of betroubare veiligheidsnetwerke indien hulp benodig word.

“Die realiteit in Suid-Afrika is dat gemeenskappe dikwels self verantwoordelikheid moet neem vir hul veiligheid. ’n Eenvoudige ding soos om vooruit te beplan met brandstof kan voorkom dat mense hulself in kwesbare situasies bevind,” voeg Broodryk by.

AfriForum moedig gemeenskappe ook aan om mekaar te ondersteun en inligting te deel oor plaaslike beskikbaarheid van brandstof.

Soortgelyke plasings

Veiligheid