Antwoorde geëis van Vrystaatse premier oor stappe teen onregmatige tradisionele leier
AfriForum het vandag ’n dringende brief geskryf aan me. M.J. Letsoha-Mathae, die premier van die Vrystaat, waarin inligting geëis word oor stappe wat deur die Vrystaatse regering geneem is teen die persoon wat homself “koning Letsitsa van die Bakholokoe koninkryk” noem. Dit volg ná berigte in die media dat Rooikraal-boerdery regstappe teen hierdie persoon en ’n mnr. S. Selepe ingestel het weens die onwettige besetting van plase in die Harrismith-omgewing. AfriForum het vasgestel dat die naam van hierdie persoon wat homself as ’n koning voordoen, in werklikheid mnr. Seka Moloi is en dat verskeie hofsake teen hom hangende is.
Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, is dit onwettig om jouself as ’n erkende tradisionele leier voor te doen wanneer dit nie die geval is nie en ’n persoon wat dit doen, is skuldig aan ’n oortreding kragtens artikel 7(9) van die Wet op Tradisionele en Khoi-San Leierskap 3 van 2019. “Daar is geen manier waarop die Vrystaatse regering nie bewus is van mnr. Moloi en sy optrede nie, veral aangesien hy verlede jaar betrokke was by ’n hofsaak in Bloemfontein om die ANC se top-leiers van hulle magte as ampsdraers van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) te stroop. Die vraag is: watter stappe het die Vrystaatse regering gedoen in die belang van wet en orde, eiendomsreg, beleggersvertroue en die beskerming van die instelling van tradisionele leierskap in die Vrystaat? Indien geen stappe gedoen is nie, moet die provinsiale regering verduidelik waarom dit die geval is.”
AfriForum het goeie verhoudings met tradisionele leiers in die Vrystaat en werk saam met leiers aan landbou-ontwikkeling- en erfenisprojekte. “Ons kan nie stilbly wanneer eiendomsreg en die goeie naam van tradisionele leiers bedreig word deur die gewetenlose optrede van individue en gebrekkige regeringsoptrede nie,” sluit Uys af.



