|

Wanneer ’n boer huil …

Kenners meen dit is die ergste uitdaging wat die veebedryf tref sedert die runderpes-pandemie van 1896 toe nagenoeg 2,5 miljoen vrektes aangeteken is. Dit word beskryf nie as ’n “siektegebeurtenis” nie, maar ’n “meerjarige finansiële en genetiese ramp”.  Boere bestempel dit as ’n krisis waarin hulle aan hul eie lot oorgelaat is, terwyl die regering se flou en stadige reaksie op dié volskaalse ramp hopeloos onvoldoende blyk te wees.

LUISTER: Daar is hoop, sê die AfriForum-traumaeenheid se Wilna Theron.

Te midde van die chaos wat oor die bek-en-klouseer-pandemie losgebars het en die aantygings wat heen-en-weer geslinger word oor dié omvangryke uitbreking, staan boere, hul gesinne en werkers telkens gebroke en moedeloos. Kuddes moet van kant gemaak word en die implementering van geweldige kwarantynmaatreëls maak boonop die verkope van diere vir minstens ’n jaar onmoontlik.

Die voorkoms van bek-en-klouseer – wat in ideale omstandighede voorkom kon word – het nou reeds omvorm tot ’n volskaalse krisis wat op veeplase in byna elke uithoek van die land afspeel.

Juis daarom snoer die landboubelangenetwerk Saai en die AfriForum-traumaeenheid nou kragte saam om deur ’n trauma-inisiatief boere en hul families by te staan wat emosioneel en finansieel deur dié pandemie geraak word.

Kyk uit vir dié gevaartekens by boere, geliefdes en werkers

Volgens Wilna Theron, senior traumaberader by die AfriForum-traumaeenheid, plaas die bek-en-klouseer-pandemie geaffekteerde boere in ’n onnatuurlike en langdurige stressituasie. Dit bring noodwendig ook finansiële druk wat hierdie boere nie normaalweg sou gehad het nie.

Wilna Theron

“As boere nie die vaardighede het om hierdie druk te hanteer nie, sal hulle dit op ongesonde maniere probeer hanteer,” verduidelik sy – en dit is juis hierdie ongesonde hantering van stres waarvoor uitgekyk moet word.

Voorbeelde van ongesonde drukhanteringsmeganismes sluit onder meer in drankmisbruik, middelafhanklikheid, ’n toename in aggressiwiteit, die verwaarlosing van persoonlike higiëne en uiteindelik ook selfdoodgedagtes.

“Dit is belangrik om te weet hoe iemand gewoonlik optree,” benadruk Theron. “Kyk uit vir enige verandering in hul persoonlikheid. As ’n ekstrovert hom- of haarself byvoorbeeld onttrek en isoleer of iemand nou meer as voorheen begin vrae vra oor die sin van die lewe, behoort dit as gevaartekens geag te word.”

Sy waarsku ook geliefdes om op te let na dit wat die geaffekteerde boer oor sy of haar eie gesondheid opmerk. Verwysings na verswakte slaap- en eetpatrone of toenemende gesondheidsprobleme is ook dikwels tekens van geweldige spanning wat nie sondermeer geïgnoreer moet word nie. 

Daarbenewens is individue se skielike behoefte om hul sake – soos die opstel van ’n testament – agtermekaar te kry of selfs openlike verwysings na selfdood as die enigste uitweg, ernstige gevaartekens.

Theron wys daarop dat dreigemente van selfdood geensins as aandagsoekery of leë woorde afgemaak moet word nie en altyd met erns en deernis hanteer moet word. “Dit is dikwels iemand se laaste desperate poging om hulp te kry en vereis onmiddellike optrede,” verduidelik sy.

Noodlyn nou oop

AfriForum en Saai het vroeër vandeesmaand ’n noodlyn as kontakpunt oopgestel vir boere en hul geliefdes om van die AfriForum-traumaeenheid se gratis beradingsdiens gebruik te maak.

Die diens is beskikbaar vir enige persoon (ongeag van AfriForum-lidmaatskap of affiliasie by Saai) wat op een of ander manier deur die pandemie getref word en die behoefte aan berading het.

Die noodlyn is slegs ’n kontakpunt. Sodra ’n geaffekteerde persoon op die noodlyn uitreik sal hy of sy in kontak geplaas word met een van die traumaeenheid se nagenoeg 200 traumavrywilligers of, indien nodig, verwys word na ’n berader of sielkundige in die eenheid se verwysingsnetwerk.

Daar ís hoop, ook in hierdie seisoen

Theron benadruk dat die impak van die huidige bek-en-klouseerpandemie vir talle boere soos die laaste strooi kan voel, maar dat dit nie die einde hoef te wees nie. “Daar is hoop,” stel sy dit onomwonde.

Sy vergelyk die traumatiese bek-en-klouseerpandemie met ’n  winterseisoen van die lewe. “Hierdie is dalk ’n winter, maar in hierdie winter moet boere weet hulle is nie alleen nie. Hulle kan, en moet, en is welkom om vir hulp te vra. Afrikanermans voel dikwels dat hulle net moet aanhou voorsien en daar moet wees vir hul gesinne, maar hulle kort nou ondersteuning en dit is waarvoor die AfriForum-traumaeenheid nou hier is – ook hierdie seisoen,” sluit sy af.

Klop hier aan vir hulp

Kontak die AfriForum-traumaeenheid by 064 870 8312 of stuur ’n e-pos na trauma@afriforum.co.za om van hierdie diens gebruik te maak. Die nommer word 24 uur per dag, sewe dae per week beman om spoedige reaksie op nood- en traumaverwante situasies te verseker.

Vir meer inligting oor bek-en-klouseer, die behandeling daarvan en alle ander landbounavrae wat jy as boer mag hê, maak vandag nog gebruik van Saai se AI Farmer-toepassing. Dié toepassing is beskikbaar op Apple- en Android-toestelle. Klik hier vir meer inligting.

Jý kan ook help

Die publiek kan hierdie inisiatief ter ondersteuning van boere in nood ondersteun deur ’n bydrae tot AfriForum se noodfonds te maak. Gebruik die onderstaande betalingsbesonderhede met “Bek-en-klouseer” as verwysing:

Banknaam: Eerste Nasionale Bank (FNB)
Rekeninghouer: AfriForum MSW
Bankkode: 261550
Rekeningnommer: 623 498 98 398
Verwysing: Bek-en-klouseer

Bek-en-klouseer is ’n aanmeldbare aansteeklike siekte wat veral onder beeste, skape, bokke, varke en seker wildsbokke voorkom. Dit word deur ’n virus veroorsaak en word veral gekenmerk deur die aanwesigheid van blasies op die slymvlies van ’n geïnfekteerde dier se bek en tong en tussen kloutjies op hoewe. Die blasies skakel later om na seertjies.

Die voorkoms van die siekte het sedert verlede jaar skerp toegeneem en tot dusver is dit reeds in sewe van die land se provinsies aangemeld nadat die verspreiding daarvan onbelemmerd voorgesit is.

Ten spyte van die regering se voorstel om alle beeste in die land teen die siekte in te ent, is die plan wyd gekritiseer as onhaalbaar. Intussen laat dit boere byna magteloos, want slegs die regering mag die broodnodige inentings verkry en versprei. Boonop word boere gedwing om hul kuddes van kant te maak en uitvoere is gestaak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf