| |

Bethal-veediefstal: AfriForum help met arrestasie van vier verdagtes

AfriForum het Vrydag 13 Februarie ’n belangrike rol gespeel in die arrestasie van vier verdagtes vir hul beweerde betrokkenheid by veediefstalvoorvalle in die Bethal-omgewing. Elf gesteelde skape is ook teruggevind. Hierdie deurbraak volg ná die goeie samewerking tussen AfriForum, die Bethal-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se plaaslike veediefstaleenheid.

Die SAPD het AfriForum Vrydag om 12:00 om hulp genader rakende die opsporing van ’n verdagte wat verbind word met veediefstal. Die verdagte is uiteindelik langs die R38 (die hoofroete tussen Bethal en Standerton) opgespoor waar sy voertuig onklaar geraak het. Hy is aan die SAPD oorhandig en gearresteer.

’n Paar uur later – om 19:00 – het die SAPD weer na AfriForum uitgereik vir ondersteuning met ’n opvolg-operasie via nagsig-tegnologie nadat verdere inligting rakende veediefstal bekom is. Luidens die nuwe inligting wou ander verdagtes, wat deel is van die veediefstalbende, skape verkoop wat vroeër die week gesteel is. Die hulp van die Bethal-GPF se protospan is ook ingeroep.

Die verdagtes is om 21:00 met behulp van AfriForum se nagsig-tegnologie opgemerk waar hulle besig was om die skape van ’n bakkie te laai en in ’n sinkhut te versteek. Daar is met die protospan-patrolleerders en die speurders van die veediefstaleenheid gekoördineer om die gebied sonder enige beligting te omsingel en in te beweeg.

Die twee verdagtes is sonder enige moeite op heterdaad betrap en gearresteer. Daar is ook beslag gelê op die voertuig wat hulle gebruik het. ’n Vierde verdagte is ook in hegtenis geneem omdat die vee in sy eiendom versteek was.

“Goeie inligting en samewerking het tot hierdie sukses gelei. Ons is dankbaar vir elke lid wat sy tyd opgeoffer het om die operasie ’n reuse-sukses te maak,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in die Hoëveld.

Steun AfriForum in jou area deur aan te sluit by www.wordlid.co.za of stuur ’n e-pos na hennie.bekker@afriforum.co.za indien jy betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings

Veiligheid