| | |

AfriForum verwelkom Presidensie se besluit om geen artikels van NGV-wet nou te promulgeer nie

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Klankgreep: Louis Boshoff (Engels)

AfriForum beskryf dit as ’n positiewe verwikkeling in die stryd teen Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) dat die Presidensie vandag bevestig het dat geen artikels van die NGV-wet gepromulgeer gaan word alvorens uitspraak gelewer word in die sogenaamde openbaredeelnamesake teen dié wet nie. Volgens die burgerregteorganisasie toon dit dat burgerlike groepe, professionele organisasies en die publiek se verwerping van die NGV-stelsel president Cyril Ramaphosa twee keer laat dink oor die implementering van dié omstrede wet.

AfriForum het Woensdag die president en vier ander verweerders gedagvaar as deel van die organisasie se regsaksie om die grondwetlikheid van die NGV-wet te betwis. Agt ander litigante het reeds elk ’n afsonderlike hofgeding teen dié wetgewing van stapel gestuur.

Die Presidensie se besluit om promulgering op ys te plaas, is Vrydag skriftelik aan die regspanne van ’n aantal litigante teen NGV gekommunikeer. Die openbaredeelnamesake  –oftewel regsaksies wat die grondwetlikheid betwis van die parlementêre proses wat tot die implementering van NGV gelei het – word eers vanaf 5 Mei aangehoor. Aangesien die president hom nou daartoe verbind het om geen artikel van dié wet te promulgeer voordat uitspraak gelewer word in dié sake nie, beteken dit dat etlike maande voorlê waarin geen implementering van die NGV-wet sal kan plaasvind nie.

AfriForum maan dat die Tesourie ook van dié aankondiging moet kennis neem. “In die lig van volgende week se begrotingsrede, sal Enoch Godongwana, minister van Finansies, waarskynlik sy begroting moet aanpas en toesien dat daar nie verder belastinggeld toegeken word vir die voorbereiding van die implementering van die NGV-stelsel nie,” sê Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder oor gesondheid.a

Volgens Boshoff is objektiewe regspraak nou van kritieke belang en daarom kan die NGV-wet nie nou in werking gestel word nie. “As daar vrae oor die werkbaarheid van ’n stelsel is, is dit vanselfsprekend dat die regering dit nie éérs kan implementeer en dán die hof geleentheid gee om te beoordeel of dit werkbaar is nie. Daarom moes hierdie onderneming van die president eintlik lankal plaasgevind het.”

Boshoff moedig alle partye wat die NGV-wet teenstaan, om hul teenstand vol te hou en bevestig dat AfriForum sy eie hofgeding teen NGV onverpoosd sal voortsit.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik