Afwenteling van polisiëringsmag nou noodsaaklik om risiko van politieke inmenging in SAPD te beperk – AfriForum
AfriForum het vandag, in reaksie op die bekendstelling van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadstatistiek vir die eerste en tweede kwartaal van 2025/2026, benadruk dat die afwenteling van polisiëringsmag na provinsiale vlak nou, meer as ooit te vore, noodsaaklik is. Daar is volgens die burgerregteorganisasie reeds bewys dat ’n gedesentraliseerde polisiediens die risiko van politieke inmenging, soos wat juis nou in die Madlanga-kommissie van ondersoek op die lappe kom, aansienlik beperk.
Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, verwelkom Firoz Cachalia, waarnemende minister van Polisie, se openlike veroordeling van probleme met politieke inmenging en die misbruik van politieke mag in die polisie. Cachalia het onder meer benadruk dat politieke inmenging en die misbruik van politieke mag ’n “skadelike uitwerking op die funksionering van ’n polisiediens in die land gehad het”. Die minister het voortaan beklemtoon dat Suid-Afrika ’n professionele polisiediens benodig wat buite die politiek staan en sonder vrees of vooroordeel hul werk kan verrig.
“Afwenteling van polisiëringsmag is waarskynlik die doeltreffendste hulpmiddel tot ons beskikking om die risiko en realiteite van politieke inmenging en magsmisbruik mee te bekamp. Boonop sal afwenteling van mag die huidige burokratiese rompslomp kan beperk; vinniger reaksietyd en aanpasbaarheid op unieke plaaslike misdaadneigings verseker; en aanspreeklikheid bevorder,” verduidelik Broodryk.
Burgerlike inisiatiewe, soos AfriForum se meer as 177 buurtwagte, maak reeds landwyd op plaaslike vlak ’n reusebydrae tot misdaadvoorkoming. Gemeenskapsinisiatiewe sal in ’n gedesentraliseerde polisiëringstelsel ’n selfs groter impak kan hê en nouer samewerking – sonder die las van ’n nasionale polisiemag se voorskrifte – bewerkstellig.
“Die fokus moet nou op die bekamping, ondersoek en vervolging van misdaad wees, nie op die onredelike vasklou aan sentrale mag ten koste van burgers van die land se veiligheid nie,” sluit Broodryk af.



