Sannieshof-tak maak straatname weer mooi


Die AfriForum-tak in Sannieshof het gedurende Mei hard gewerk om die straatname in die dorp te herstel en nuwe betonstene met straatname opgeverf, aangebring.
Die tak is tans besig om nuwe straatnaamstene op te rig as deel van die organisasie se straatnaamprojek. Daar is reeds minstens 31 nuwe stene opgerig en van die strate wat pronk met nuwe stene sluit in Stasie-, Slabbert-, De Kock- en Durrstraat. Die tak beoog om nog 40 straatnaamstene in die dorp aan te bring.
Volgens Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, sal hierdie nuwe stene dit vir inwoners, besoekers en veral nooddienste makliker maak om by die regte straat uit te kom. “Behalwe dat daar natuurlik ’n estetiese belang is met hierdie projek is die dieper kwessie ook om inwoners se veiligheid te verbeter. Dit is byna ondenkbaar dat geen straatnaam in die dorp sigbaar was toe ons met hierdie projek begin het nie en nou lyk dit reeds stukke beter.”
Die koste van die projek beloop reeds ongeveer R15 000 en die tak beoog om nog 40 straatnaamstene aan te bring. Die koste van só steen beloop sowat R500 en gemeenskapslede wat graag ’n straatnaam wil borg kan Rianna van der Walt, voorsitter van die Sannieshof-tak, by 082 337 6675 kontak om betrokke te raak.
Die Sannieshof-tak het ook die buurtwag weer aan die gang gekry en daar word op ’n weeklikse basis patrollies gery om veiligheid in die dorp te verseker.
“Die AfriForum-tak in Sannieshof is hard aan die werk om ’n verskil in die dorp te maak. Hierdie projek is net die begin van nog baie projekte wat deur die tak beplan word en AfriForum wil graag die gemeenskap uitnooi om saam met ons hande te vat sodat ons ’n skoner en veiliger Sannieshof vir elkeen kan skep,” sluit Nel af.
Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier vir meer inligting.



