| | |

AfriForum waarsku teen onregverdige kragtariefverhogings in JB Marks-munisipaliteit

AfriForum doen ’n beroep op die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit om eers behoorlike skuldinvordering toe te pas en onwettige aansluitings die stryd aan te sê voordat die voorgestelde kragtariefverhogings vir die 2026/27 boekjaar ingestel word.  Die organisasie waarsku dat die voorgestelde verhogings ernstige regs-, finansiële en bestuurskwessies na vore bring.

Volgens AfriForum is die voorgestelde tariefstruktuur nie in lyn met wetlike vereistes vir billikheid, deursigtigheid en doeltreffende gebruik van hulpbronne soos vervat in die Grondwet, die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur 56 van 2003 en die Wet op Munisipale Stelsels 32 van 2000 nie.

“Die munisipaliteit probeer die finansiële las van swak bestuur, onvoldoende inkomste-invordering en moontlike korrupsie op wetsgehoorsame inwoners en besighede afskuif,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die voorgestelde verhogings sluit onder meer verhogings van vaste maandelikse heffings; hoë piektyd-tariewe; en stygings in residensiële en besigheidstariewe per kWh in .

AfriForum beklemtoon dat hierdie verhogings verder vererger word deur die feit dat verbruikers nou meer moet betaal ongeag hul werklike elektrisiteitsverbruik.

In hul skrywe aan die munisipaliteit het die organisasie ook kommer uitgespreek oor munisipale amptenare se beweerde betrokkenheid by onwettige verbindings.

“Dit is onaanvaarbaar dat betalende inwoners moet opdok vir verliese weens onwettige aansluitings en swak finansiële bestuur,” voeg Pretorius by.

AfriForum voer voorts aan dat die beginsel van tariewe wat kostes reflekteer nie gebruik kan word om die gevolge van wanbestuur, wanbetaling en korrupsie op verbruikers af te pak nie.

AfriForum versoek ook volledige deursigtigheid vanaf die munisipaliteit oor kostes en verliese rakende elektrisiteitsvoorsiening asook dat die tariefverhogings heroorweeg word tot bestuurskwessies uitgeklaar is.

Volgens Douglas Bourn, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak, kan die munisipaliteit nie van gemeenskappe verwag om voortgesette wanbestuur en beweerde korrupsie te subsidieer deur hierdie tariefverhogings nie.

Raak vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-tak en -buurtwag betrokke en help só om ’n daadwerklike verskil in jou omgewing te maak. Kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf