|

NUUSKOMMENTAAR: Die toekoms behoort aan die bouers, nie die hernoemers nie

Deur Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum

Die siniese politieke foefie deur die ANC-geleide regering om Graaff-Reinet te hernoem na Robert Sobukwe-dorp het my weer herinner aan ’n ou gesegde: Diegene wat kan, doen. Ek reken ons kan dit gerus aanpas in ons tyd na: Diegene wat kan, bou, en diegene wat nie kan bou nie, hernoem. Daar is geen selfrespek te vinde in die uitwissing van ander se erfenis óf in die naamsverandering van dit wat ander gebou het nie. Al bitter vrugte wat hierdie boom dra, is ’n verminkende selftwyfel en minderwaardigheidskompleks.

Ses jaar nadat president Cyril Ramaphosa belowe het dat sy regering ’n slimstad naby die Lanseria-lughawe in Gauteng gaan bou, is die enigste vordering wat gemaak is, die oprigting van ’n onvolledige heining. Ses jaar gelede het Ramaphosa ’n nuwe Universiteit van Wetenskap en Innovasie in Ekurhuleni beloof. Die geoormerkte terrein bevat vandag egter slegs bosse, vullis en ’n vervalle gebou. In sy jaarlikse staatsrede beloof Ramaphosa hoëspoedsneltreine, terwyl die land se bestaande spoorweë verval en verdwyn asof dit opgevreet word deur ystervretende rysmiere. In 2019 beloof die EFF dat as hulle nie binne vyf jaar ’n nuwe skool gebou het nie, mense nooit weer vir hulle hoef te stem nie. Doen jy self die wiskunde of hul tyd verstreke is.

Dit is hoekom die ANC kies om bestaande plekke, wat ander gebou het, se name te verander, en hoekom die EFF hierdie naamsveranderings steun. Dit is bloot om die illusie te skep dat hulle iets nuut tot stand bring te midde van ’n lang, vernederende en groeiende lys leë beloftes.

Daar moet kennis geneem word dat, toe dit oorwegend Afrikaners was wat die staat beheer het, selfs dorpe soos Milnerton en Somerset-Wes nie hernoem is nie. Somerset-Wes is vernoem na Lord Charles Somerset, een van die mees berugte koloniale administrateurs wat probeer het om Afrikaans uit te wis. Milnerton is vernoem na sir Alfred Milner, een van die grootste ondersteuners van die Anglo-Boereoorlog en ’n leier wat probeer het om Afrikaners etnies te suiwer, veral in onderwys.

In teenstelling met die ANC en die EFF se leë beloftes het die Solidariteit Beweging reeds ’n tegniese kollege (Sol-Tech) gebou en konstruksie aan Akademia se nuwe R3,2 miljard Afrikaanse kampus het amptelik begin. AfriForum het reeds meer as 170 buurtwagte op die been gebring en Bo-Karoo Opleiding is gevestig in Orania. Reeds in die 1930’s was die slagspreuk “Ons bou!” gewild onder Afrikaners – ’n sentiment wat in 2026 steeds duidelik sterk te vinde is onder ons mense.

Afrikaners ly vandag nie aan ’n minderwaardigheidskompleks nie, want ons het bou – en dan die benoeming van die nuwe dinge wat ons bou – deel van ons identiteit gemaak. Afrikaners het geleer dat ware selfrespek daarin lê om nuwe instellings, organisasies, skole, universiteite, en meer te bou, en dit dan met trots te noem wat jy wil. Politici dink slegs aan die volgende verkiesing wanneer hulle plek- en straatname verander. Die Solidariteit Beweging dink aan die volgende geslag. Die volgende geslag Afrikaners gaan met trots weet hulle voorvaders was baanbrekers, eerder as afbrekers.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners