| | |

AfriForum waarsku Ngwathe-munisipaliteit oor voortgesette rioolbesoedeling en swak dienslewering

AfriForum het gister (23 April) weer formeel by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit aangedring op dringende optrede teen die voortdurende storting van rou riool by Die Sandgat in Parys, waar rou riool direk in die Vaalrivier invloei. Hierdie probleem duur reeds vir ’n geruime tyd voort en is al verskeie kere onder die munisipaliteit se aandag gebring, sonder enige noemenswaardige verbetering.

Dié versoek volg ná Futhuli Patrick Mothamaha se wederregtelike aanstelling as munisipale bestuurder van die Ngwathe-munisipaliteit in 2024. AfriForum eis sedert 2025 Mothamaha se skorsing nadat hy destyds in hegtenis geneem en aangekla is van bedrog, diefstal, geldwassery en die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur. Altesaam R1,9 miljoen het na bewering in 2021 uit die Maluti-A-Phofung Plaaslike Munisipaliteit se begroting verdwyn, terwyl Mothamaha as munisipale bestuurder by dié munisipaliteit werksaam was. Sedert sy aanstelling by die Ngwathe-munisipaliteit twee jaar gelede, het Mothamaha ook geen wesenlike verbeteringe ten opsigte van dienslewering gemaak nie. Inteendeel, basiese dienste het net verder agteruitgegaan.

Volgens AfriForum dui die volgehoue besoedeling op ernstige verval in dienslewering en ’n gebrek aan politieke wil om infrastruktuur behoorlik te onderhou. Die situasie hou nie net ’n risiko vir die omgewing in nie, maar bedreig ook die gesondheid van inwoners en alle gebruikers van die Vaalrivier stroomaf.

“Dit is onaanvaarbaar dat rou riool steeds vrylik in een van Suid-Afrika se belangrikste waterbronne invloei, terwyl die munisipaliteit versuim om daadwerklik op te tree,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Mooirivier.

AfriForum wys verder daarop dat die munisipaliteit se gebrek aan optrede in stryd is met nasionale wetgewing wat vereis dat waterbronne beskerm en besoedeling voorkom moet word. Tog blyk dit dat die munisipaliteit eerder voortgaan om teen hofuitsprake te appelleer as om volhoubare oplossings te implementeer.

“Terwyl belastingbetalers se geld aangewend word om regsprosesse te rek, bly basiese dienslewering agterweë en word probleme eenvoudig nie opgelos nie,” voeg Pretorius by.

Benewens die rioolkrisis het AfriForum ook sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan stoptekens by talle kruisings in Parys. Die organisasie het reeds stoptekens aan die munisipaliteit geskenk, maar dié is steeds nie opgerig nie. Dit stel padgebruikers se lewens in gevaar.

In die brief wat AfriForum aan die munisipaliteit gerig het, versoek die organisasie dat daar dringend duidelike tydraamwerke verskaf word vir ’n permanente oplossing van die rioolprobleem; en vir die oprigting van die geskenkte stoptekens by geïdentifiseerde gevaarlike kruisings.

AfriForum waarsku dat verdere stappe oorweeg sal word indien die munisipaliteit nie spoedig optree nie.

“Gemeenskappe kan nie langer die gevolge van swak bestuur en gebrekkige dienslewering dra nie. AfriForum sal aanhou druk toepas totdat daar werklike verbetering is,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Kontak Burger by 082 653 4281 om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf