|

AfriForum maak alarm oor gevaarlike oorgang vir leerders in Tumahole

AfriForum het vandag die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit versoek om as ’n saak van dringendheid ’n brug in Tumahole, Parys aan te bring om die leerders van die Mandela-uitbreiding se veiligheid te verseker. Die burgerregteorganisasie het in ’n skrywe die munisipaliteit daarop gewys dat dié leerders daagliks aan gevaarlike toestande blootgestel word op hul roete skool toe.

Dit het onlangs onder AfriForum se aandag gekom dat daar geen brug of veilige oorgang vir leerders is om by die skool uit te kom nie. Wanneer die reën toesak, moet leerders deur volwassenes gehelp word om deur stromende stormwater te beweeg. Dit omdat daar geen oorgang is nie én dit te gevaarlik is om dit alleen oor te steek.

“Dit is onaanvaarbaar dat kinders in gevaar gestel word weens die munisipaliteit se versuim om basiese infrastruktuur te voorsien. Hierdie is ’n direkte skending van die munisipaliteit se plig om veilige en volhoubare dienste aan gemeenskappe te lewer,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

AfriForum het die munisipaliteit versoek om dringend terugvoer te gee oor:

  • waarom daar nie ’n veilige oorgang of brug vir leerders is nie;
  • watter onmiddellike stappe gedoen word om kinders se veiligheid te verseker; en
  • wanneer toepaslike infrastruktuur opgerig sal word.

Terwyl stormwater gereeld onveilige toestande in Tumahole veroorsaak, het die munisipaliteit se versuim om stormwaterstelsels op die dorp behoorlik in stand te hou, veroorsaak dat strate in riviere verander het nadat Parys 70 mm sê reën Dinsdagaand ontvang het. AfriForum het daarvolgens geëis dat die munisipaliteit antwoorde verskaf oor waarom stormwaterstelsels nie behoorlik onderhou word nie.

“Ingevolge artikels 152 en 153 van die Grondwet is munisipaliteite verplig om basiese dienste op ’n volhoubare en veilige wyse te lewer en prioriteit aan gemeenskappe se basiese behoeftes te gee. Dié munisipaliteit kan dan nie sy besteding op regsgedinge regverdig terwyl infrastruktuur ten gronde gaan nie,” sê Pretorius.

Hoewel die Hooggeregshof reeds telkens bepaal het dat dienslewering in Ngwathe onvoldoende is en ingryping vereis het, hou die munisipaliteit steeds aan om teen hofuitsprake te appelleer. AfriForum het die munisipaliteit 48 uur gegee om op die jongste skrywe te reageer en waarsku dat verdere stappe oorweeg sal word indien daad nie by woord gevoeg word nie.

“Die feit dat kinders se veiligheid in gedrang is, terwyl infrastruktuur verval en fondse elders bestee word, is onaanvaarbaar. AfriForum sal aanhou druk uitoefen totdat die nodige ingryping plaasvind,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak. 

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Kontak Burger by 082 653 4281 om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf