Ramaphosa se herstelplan vir geslagsgebaseerde geweld onthul jarelange polisiëringsmislukkings
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het reeds voor president Cyril Ramaphosa se groot geslagsgebaseerde geweld-oudit en herstelplan onthul hoe die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se mislukkings toegelaat het dat verkragters, moordenaars en kindermishandelaars al vir jare op vrye voet loop. Op 28 September het die privaatvervolgingseenheid hierdie mislukkings in korrespondensie aan die waarnemende Nasionale Polisiekommissaris, luitenant-generaal Puleng Dimpane uitgewys, ’n dag voordat Ramaphosa die land toegespreek het.
In die eerste korrespondensie, gedateer 19 Mei 2026, het die privaatvervolgingseenheid antwoorde geëis oor ses sake, wat vier sake van geslagsgebaseerde geweld insluit, waar verdagtes al vir so lank as vyf jaar op vrye voet is. Op 22 Junie 2026 het Dimpane in reaksie op dié sake geantwoord dat besonderhede van die verdagtes gesirkuleer is en dat die onderskeie dossiere aan die opsporingseenheid oorhandig is, dat die verdagtes steeds gesirkuleer is vir inhegtenisname, en dat die beskuldigde gesirkuleer is as “gesoekte persoon”.
Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, blyk dit dat hierdie ’n poging is om die indruk te skep dat iets gedoen word terwyl die sake net stof vergaar. Die herhaalde gebruik van die woord ‘gesirkuleer’ blyk ’n meganisme te wees waardeur ondersoekbeamptes aanspreeklikheid kan vermy deur die dossier van hul tafels af te kry. Sodra die dossier aan ’n opsporingseenheid oorhandig word dan word dit iemand anders se probleem. Dit is egter opvallend dat enige betekenisvolle verslag van die stappe wat in die ondersoek gedoen is en die versuim om gereeld aan slagoffers terugvoer te gee, ontbreek. Slagoffers is veral in sake soos hierdie bereid om wetstoepassers te help ten einde toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê Nel.
Nel verwys ook na ’n Cleveland-saak waar die verdagte, Mbongiseni Welcome Zwane, na bewering sy voormalige meisie verkrag het voordat hy ’n week later teruggekeer het en gepoog het om haar te vermoor. Hy is sedert 2021 op vrye voet. Die SAPD sê dat hulle sy voertuig by sy broer in Newcastle opgespoor het, maar dit is so ver as wat die ondersoek tot dusver gestrek het. “Die risiko is groot dat hierdie verdagte weer kan verkrag, gewelddadig kan optree of weer sal poog om moord te pleeg. Die feit dat hy al vir ongeveer vyf jaar voortvlugtend is ten spyte daarvan dat hy die verdagte in ernstige klagtes is, is kommerwekkend. Die SAPD kan nie redelikerwys die blote sirkulering van ’n lasbrief of die verwysing van ’n saak na ’n opsporingseenheid as ’n bevredigende nakoming van sy grondwetlike en statutêre verantwoordelikhede beskou nie,” sê Nel.
Van Ramaphosa se planne sluit onder meer in dat die owerhede sake moet identifiseer waar verdagtes geïdentifiseer is, maar nie in hegtenis geneem is nie en om dan ook herstelplanne te implementeer vir sake wat prioriteit is en sake wat dormant is.
Volgens Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, eis die privaatvervolgingseenheid nie dat hierdie sake voorkeur of buitengewone behandeling moet kry nie. “Al wat ons vra is dat hierdie sake die basiese vlak van ondersoek en aandag kry waarop elke misdaadslagoffer geregtig is. Hierdie sake vereis dat speurders fundamentele polisiëringsdienste verskaf: om klagtes ernstig op te neem, op te volg op beskikbare inligting, voor-die-hand-liggende leidrade te ondersoek, bekende verdagtes na te spoor, lasbriewe uit te reik en te verseker dat beskuldigdes voor ’n hof gebring word sodat die strafregproses kan begin.”
“Die president se oudit en herstelplan is gelykstaande aan ’n erkenning dat die SAPD óf nie in staat is om hierdie basiese funksies te verrig nie óf hulle plig om dit te verrig versaak het. Dít is die rede waarom geslagsgebaseerde geweld buite beheer is. As die SAPD ernstig is oor die implementering van die sogenaamde ‘herstel agenda’, dan moet hulle dringend optree op die lys van beweerde verkragters, moordenaars en kindermishandelaars wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan hulle voorsien het,” sluit Bateman af.
In byna al hierdie sake het die privaatvervolgingseenheid en die slagoffers inligting aan die SAPD voorsien wat kan help om die verdagtes op te spoor, maar dit blyk dat hierdie inligting bloot geïgnoreer word of nie op gereageer word nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal aanhou om die SAPD aanspreeklik te hou en druk op hulle te plaas om te verseker dat hierdie slagoffers nie in hulle soeke na geregtigheid vergeet word nie.



