|

Nuwe kragtariefbeleid niksseggend sonder behoorlike toepassing – AfriForum

Morné Mostert (Afrikaans)

Die bygewerkte kragtariefbeleid sal weinig meer werd wees as die papier waarop dit geskryf is indien die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) voortgaan om elektrisiteitswetgewing en lisensievoorwaardes nie behoorlik toe te pas nie. AfriForum sê die minister van Elektrisiteit en Energie behoort die publisering van die bygewerkte beleid as ’n geleentheid te gebruik om nie net ’n nuwe beleid aan te kondig nie, maar ook om die ernstige tekortkominge in die regulering van Suid-Afrika se elektrisiteitsbedryf aan te spreek.

AfriForum moes reeds die howe nader om nakoming van die bestaande regulatoriese raamwerk af te dwing. Dit het regstappe ingesluit rakende Nersa se goedkeuring van munisipale elektrisiteitstariewe sonder die vereiste kostestudies. Hierdie studies is noodsaaklik om te verseker dat munisipale elektrisiteitstariewe op die werklike koste van elektrisiteitsvoorsiening gebaseer is en nie bloot as ’n bykomende bron van inkomste vir munisipaliteite gebruik word nie.

“’n Regulatoriese raamwerk is slegs so doeltreffend soos die reguleerder wat verantwoordelik is vir die toepassing daarvan. Die minister kan dus nie net daarop fokus om die kragtariefbeleid te verander terwyl Nersa se prestasie geïgnoreer word nie. Nersa moet verseker dat munisipaliteite en ander lisensiehouers aan wetgewing, lisensievoorwaardes en regulatoriese vereistes voldoen. Waar hulle versuim om dit te doen, moet daar gevolge wees,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Munisipaliteite is al te lank toegelaat om regulatoriese vereistes te verontagsaam, terwyl daar van verbruikers verwag word om steeds duurder elektrisiteitstariewe te betaal. Dit is tyd vir behoorlike gevolgebestuur. Lisensiehouers wat herhaaldelik versuim om aan die regulatoriese raamwerk te voldoen, behoort aan afdwingingsmaatreëls onderwerp te word. Waar ’n munisipaliteit of ’n ander lisensiehouer bewys het dat hy nie in staat is om sy verpligtinge na te kom nie, kan sy lisensie nie bloot onbepaald hernu word nie.

“Die boodskap behoort eenvoudig te wees: voldoen aan die regulatoriese raamwerk en lewer die diens wat deur jou lisensie vereis word. As jy dit nie gedoen kan word nie, behoort iemand wat wel kan, toegelaat te word om daardie verantwoordelikheid oor te neem,” sê Mostert.

AfriForum sal die bygewerkte beleid deeglik bestudeer sodra dit Vrydag gepubliseer word. Die ware toets sal egter nie wees wat die minister op papier belowe nie, maar of die regering en Nersa uiteindelik bereid is om die reëls wat reeds bestaan, toe te pas.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf