AfriForum-verteenwoordigers ontvang kardinale opleiding te midde van toenemende ramprisiko’s in Wes-Kaap
Die Wes-Kaapse rampbestuursafdeling het onlangs voorvalbevel-en-beheeropleiding aan AfriForum-personeel en -lede aangebied. Hierdie opleiding vorm deel van AfriForum se fokus om gemeenskappe voortdurend toe te rus om doeltreffend op rampe en noodgevalle te reageer.
Die Wes-Kaap word gereeld deur natuurrampe en ander noodsituasies geraak, insluitend veldbrande, vloede, storms en ander voorvalle wat gekoördineerde reaksie vereis. Daarom is dit noodsaaklik dat gemeenskapsorganisasies, nooddienste en ander rolspelers oor ’n gemeenskaplike stelsel beskik om rampe doeltreffend te bestuur.
Tydens die opleiding het deelnemers geleer van die verskillende funksies binne die voorvalbevel-en-beheerstelsel, die rolle en verantwoordelikhede van elke funksie, asook die toepassing van gesamentlike bevel en beheer wanneer verskeie instansies saamwerk tydens ’n ramp. Die kursus het ook gefokus op die praktiese toepassing van die stelsel en hoe dit aangepas kan word om aan die unieke vereistes van verskillende voorvalle te voldoen.
Die voorvalbevel-en-beheerstelsel word reeds wyd gebruik deur nooddienste en brandweerdienste in Suid-Afrika. Internasionaal word dit as ’n bewese en doeltreffende model beskou. Die Verenigde State van Amerika (VSA) het die stelsel ná die terreuraanvalle van 11 September 2001 verder verfyn, terwyl lande soos Engeland en Australië dit ook suksesvol gebruik. Die stelsel is gebaseer op beproefde bevel-en-bestuursbeginsels wat reeds lank binne dienste in uniform (waaronder regeringsorganisasies, staatsinstellings, takke of private agentskappe waarvan personeel verplig is om spesifieke, identifiseerbare uniforms te dra wanneer hulle hul pligte verrig) toegepas word.
Een van die grootste voordele van die voorvalbevel-en-beheerstelsel is die aanpasbaarheid daarvan. Dit bied riglyne en ’n duidelike struktuur sonder om rigiede voorskrifte af te dwing. Die stelsel kan volledig of gedeeltelik geïmplementeer word, afhangend van die omvang en aard van die voorval. Dit maak dit geskik vir ’n wye verskeidenheid situasies, insluitend natuurrampe, mensgemaakte rampe, beplande operasies, openbare byeenkomste en gemeenskapsreaksieprojekte.
“Geen enkele organisasie of instelling kan vandag die uitdagings van rampbestuur alleen aanpak nie. Die waarde van die voorvalbevelstelsel lê daarin dat dit verskillende rolspelers in staat stel om met ’n gemeenskaplike doel, gemeenskaplike taal en duidelike verantwoordelikhede saam te werk. Wanneer gemeenskappe, nooddienste, regeringsinstansies en vrywilligers volgens dieselfde beginsels funksioneer, word hulpbronne beter benut, kommunikasie verbeter en kan rampe meer doeltreffend bestuur word. Hierdie opleiding help om daardie samewerking te versterk en gemeenskappe meer weerbaar te maak,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.
AfriForum is dankbaar vir die Wes-Kaapse rampbestuursafdeling vir die waardevolle opleiding en sien daarna uit om die kennis en beginsels van die voorvalbevel-en-beheerstelsel verder binne gemeenskappe toe te pas om paraatheid, samewerking en reaksievermoë tydens toekomstige rampe te versterk.



