Water
|

AfriForum nader hof sodat Johannesburgers nie vir waterwanbestuur opdok

Deur Megan Swart

Ongeag hoeveel water gebruik word óf die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit se vermoë om ’n betroubare waterdiens te lewer, gaan inwoners voorts R107,74 per maand vir dié metro se wateraanvraagbestuursheffing moet betaal. AfriForum hou egter vol dat die 65,6%-verhoging as voorwendsel gebruik word om die metro se jarelange wanbestuur van dié infrastruktuur toe te smeer. Die burgerregteorganisasie wend hom nou tot die hof om die omstrede verhoging te betwis.

AfriForum het verlede week die Hooggeregshof genader vir verligting nadat die verhoging op 27 Mei as deel van die metro se 2026/2027-begroting goedgekeur is. Die dringende aansoek het ten doen om die verhoging te laat hersien en tersyde te stel.

Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum, sê die jongste syfers dui daarop dat omtrent ’n kwart van Johannesburg se water deur onder meer lekkasies verlore gaan nog voordat dit by ’n kraan uitkom.

“Johannesburg Water verdien geen inkomste op byna die helfte van die water wat in die verspreidingsnetwerk ingevoer word nie, as gevolg van lekkasies, diefstal en foutiewe fakturering. Dit verteenwoordig ’n jaarlikse verlies aan inkomste van meer as R2 miljard. Hierdie  fondse kon aangewend word om verouderde infrastruktuur te vervang of te herstel,” sê De Vaal.

“Om teen hierdie agtergrond tariewe te verhoog en van verbruikers te verwag om vir die munisipaliteit se wanbestuur te vergoed, is soos om te probeer om ’n emmer vol gate vol te maak deur meer en meer water daarin te tap.”

Die burgerregteorganisasie voer aan dat die metro boonop herhaaldelik weier om die metodologie of rasionaal te verskaf wat ’n 65,6%-verhoging in die heffing regverdig. Dit is ten spyte van die feit dat hierdie inligting nodig was om ingeligte openbare deelname moontlik te maak.

“Daar was van inwoners verwag om kommentaar te lewer op ’n beduidende tariefverhoging sonder om die inligting te hê oor hoe dit bereken is, waarom die spesifieke verhoging nodig is, of hoe die bykomende inkomste gebruik sou word. Dít is nie betekenisvolle openbare deelname nie,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Die oppergesag van die reg vereis deursigtigheid, verantwoordbaarheid en rasionele besluitneming. Wanneer ’n munisipaliteit weier om te verduidelik hoe ’n groot tariefverhoging bepaal is, versuim om die inligting te verskaf wat vir betekenisvolle openbare deelname nodig is en nogtans die verhoging goedkeur, is inwoners geregtig om die hof te vra om in te gryp.”

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf