Noord-Kaapse premier moet ingryp oor verval van R369 en swaar ertsvragmotorverkeer
AfriForum versoek dat die Noord-Kaapse premier, dr Zamani Saul, dringend ingryp om die verval van die R369 en ander paaie in die sentrale Noord-Kaap as gevolg van die voortdurende stroom van swaar mangaanertsvragmotors onder bedwang te bring.
Die R369, wat tussen Hopetown en Petrusville deur Orania loop, is die enigste teerpadverbinding tussen Orania en die res van Suid-Afrika. Volgens inwoners en gereelde padgebruikers het die toestand van dié pad die afgelope jare drasties versleg weens die aanhoudende verkeer van swaar vragmotors wat rou mangaanerts vanaf die Hotazel-Kuruman-streek na die hawe by Gqeberha (Port Elizabeth) vervoer.
“Die toestand van die R369 het sodanig versleg dat motoriste dikwels teen ’n slakkepas moet ry om skade aan hul voertuie te voorkom. Slaggate, ongelyke padoppervlaktes en veiligheidsrisiko’s het ’n daaglikse werklikheid vir inwoners en besoekers geword,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se Noord-Kaapse streekshoof.
Van Dalen wys verder daarop dat soortgelyke skade ook op gedeeltes van die N12 tussen Hopetown, Strydenburg, Britstown, De Aar en Hanover, asook op die R369 tussen Petrusville, Philipstown en Hanover, sigbaar is. Die toenemende druk op hierdie paaie beïnvloed nie net padveiligheid nie, maar ook plaaslike ekonomiese aktiwiteit, toerisme, landbou en die algemene lewensgehalte van gemeenskappe langs die roete.
In sy brief aan die premier versoek Van Dalen duidelikheid oor die status van die beplande opgradering van die R369 tussen Hopetown en Vanderkloof, wat volgens beskikbare inligting oorspronklik vir 2026 geskeduleer was, maar later na 2027 uitgestel is. AfriForum vra ook dat die premier bevestig of enige ondersoeke ingestel is na bewerings van moontlike onreëlmatighede wat die projek verder kon vertraag het.
“Ons doen nie in hierdie stadium enige uitsprake oor die waarheid van gerugte rakende die tenderproses nie. Ons vra bloot dat die provinsiale regering duidelikheid verskaf en die publiek inlig oor die huidige status van die projek en die redes vir enige verdere vertragings,” sê Van Dalen.
AfriForum het die premier versoek om aan te dui watter stappe die provinsiale regering doen om die padnetwerk te rehabiliteer, padveiligheid te verbeter en moontlike alternatiewe vragvervoeroplossings, insluitend verhoogde spoorvervoer, te ondersoek om die druk op die provinsiale paaie te verlig.
“Die toestand van hierdie paaie het ’n punt bereik waar dit nie meer bloot ’n infrastruktuurkwessie is nie, maar ’n saak van openbare veiligheid en ekonomiese volhoubaarheid. Die gemeenskappe wat daagliks van hierdie paaie afhanklik is, verdien antwoorde en daadwerklike optrede,” sluit Van Dalen af.



