Skoolgebou, onderwys, skool, opvoeding
|

Matriekuitslae-saak: AfriForum sal IR se jongste appèlaansoek teenstaan

Alana Bailey (Afrikaans)

Die Inligtingsreguleerder (IR) poog steeds verbete om verlof tot appèl teen ’n vroeër uitspraak te kry waarin ’n volbank regters ten gunste van AfriForum en ander partye beslis het dat die matriekuitslae wel gepubliseer mag word. Die Hooggeregshof in Pretoria het op 3 Junie die IR se aansoek om verlof tot appèl geweier, maar dié instelling het nie die stryd prysgegee nie en nou die hoogste hof van appèl (HHA) direk om verlof genader. AfriForum sal soos met die vorige aansoek ook dié poging teenstaan.

“Die verligting dat die dispuut oor die publikasie van matriekuitslae nou uiteindelik opgelos is, was van korte duur. Dit is duidelik dat die IR steeds nie die futiliteit van hierdie saak insien nie en ook nie die risiko’s wat ’n uitspraak ten gunste daarvan sal inhou nie. Terwyl die IR magspeletjies speel, word die toekoms van inligting wat in die openbare belang behoort bekendgemaak te word, in die gedrang geplaas,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

Die saak het in 2022 begin toe die Departement van Basiese Onderwys (DBO) probeer het om die publikasie van die matriekuitslae te verbied. In regstappe wat gevolg het, het die hof ten gunste van AfriForum en die ander betrokke partye beslis dat die openbare bekendmaking wel moes voortgaan.

Aan die einde van 2024 het die IR probeer om te verhoed dat die DBO die 2024-matriekuitslae publiseer. Die IR se aansoek om ’n interdik hierteen te bekom, het egter misluk, waarna die saak oor die meriete gevolg het. In Desember 2025 het ’n volbank regters beslis dat die matriekuitslae wel op openbare platforms gepubliseer mag word. Daarbenewens is bevind dat die gebruik van eksamennommers as die enigste identifikasiemiddel voldoende beskerming vir die privaatheid van matrikulante bied en dat die DBO regmatig opgetree het deur nie die IR se instruksie na te kom om die uitslae te weerhou nie. Die hooggeregshof se weiering om verlof tot appèl toe te staan het hierdie uitspraak herbevestig. Die aansoek tot die HHA is die IR se finale poging om ’n ander uitkoms te bereik.

Verskeie navorsingsvelde werk met inligting van individue wat slegs deur nommers of kodes geïdentifiseer kan word. Dit word juis gebruik om hul anonimiteit te beskerm, net soos wat die geval met die matriekuitslae is. Hierdie is dus ’n saak met wye implikasies omdat dit oor die balans tussen die reg tot privaatheid teenoor openbare belang handel. AfriForum hoop dat dit binnekort finaal afgehandel kan word.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners