Overstrand-tak bevorder ingesteldheid van paraatheid onder inwoners
AfriForum se Overstrand-tak het vandeesmaand opnuut die belangrikheid van gemeenskapsveiligheid uitgelig met ’n gesprek, gelei deur onder andere ’n oudspeurder, oor praktiese veiligheidswenke en inisiatiewe om misdaad te bekamp. JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit in die Wes-Kaap, en Riaan Booysen, ’n oudspeurder en veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Overstrand-tak, het die gemeenskap touwys gemaak oor alles wat met veiligheid te make het.
Booysen het praktiese wenke gedeel oor hoe inwoners hul huise en eiendom beter kan beveilig, asook hoe ’n ingesteldheid van waaksaamheid kan help om risiko’s te beperk en mense beter voor te berei om moontlike veiligheidsbedreigings te hanteer. Smith het op sy beurt oor die stad se veiligheidsinisiatiewe uitgewei, die suksesse wat reeds behaal is en die rol wat tegnologiese vooruitgang in misdaadbekamping speel. Smith het ook lig gewerp op gevorderde veiligheidsinisiatiewe wat in die Wes-Kaap ontwikkel en geïmplementeer word, maar waarvan die breër publiek dikwels min kennis dra.
Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, sê wanneer inwoners nie bewus is van die veiligheidsinisiatiewe wat ontwikkel is, die resultate wat behaal is of die struikelblokke wat oorkom moet word nie, kan dit die indruk skep dat die land se veiligheid agteruitgaan. “AfriForum het daarom hierdie gesprek gefasiliteer om die belangrikheid te beklemtoon van groter deursigtigheid, beter kommunikasie en ’n ingeligte publiek wat in staat is om die vordering én die uitdagings binne die veiligheidsomgewing krities te beoordeel.”
Volgens Booysen begin veiligheid by elke individu, maar dit verg ook samewerking, waaksaamheid en die bereidwilligheid om verantwoordelikheid vir gemeenskappe te aanvaar. “Deur kennis te deel en praktiese veiligheidsmaatreëls toe te pas, kan inwoners beter toegerus wees om hulself, hul gesinne en hul eiendom te beskerm.”
AfriForum moedig inwoners aan om by plaaslike veiligheidsinisiatiewe betrokke te raak en om veiligheid as ’n gedeelde verantwoordelikheid te beskou. Raak vandag by jou naaste AfriForum-tak betrokke . Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



