|

AfriForum sit hofstryd teen Wonderfontein-ontwikkeling voort

Jaco Grobbelaar (Afrikaans)

AfriForum se hofstryd teen die Wonderfontein-ontwikkeling aan die buitewyke van Sasolburg word op 23 Februarie in die Bloemfonteinse Hooggeregshof voortgesit in ’n poging om die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se besluit om dié ontwikkeling te laat voortgaan, tersyde te stel. AfriForum voer aan dat die minister se besluit die ontwikkeling onregmatig van die bepalings ingevolge artikel 43(2) van die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur 16 van 2013 vrygestel het.

AfriForum het reeds in Augustus verlede jaar sy aanvullende verklaring vir die tweede deel van die hofsaak geliasseer. Al die ander partye, insluitend die minister en die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit, moes teen Oktober verlede jaar hul antwoordende verklarings ingedien het, maar hulle het versuim om dit binne die voorgeskrewe tydperk te doen.

Die munisipaliteit het eers op 23 Januarie 2026 sy stukke geliasseer – meer as 111 kalenderdae laat. AfriForum het die dokumente ontvang en reeds sy repliserende verklaring, asook sy hoofde van argument ingedien. Die minister het verlede jaar aangedui dat hy die saak sal opponeer, maar tot op hede is geen stukke ontvang nie. Dieselfde geld vir die Vrystaatse departement van Menslike Nedersettings, wat ook aangedui het dat hy die saak gaan opponeer.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die Sentraalstreek, sê die partye se trae optrede in die saak laat ernstige vrae oor die regering se toewyding tot die ontwikkeling. “Indien die projek werklik in die gemeenskap se belang is, sou die regering die nodige tyd afstaan om dit in die hof te verdedig. Hierdie patroon van nalatigheid en onbevoegdheid is presies die rede waarom die Metsimaholo-munisipaliteit nie in staat is om basiese dienste te lewer nie.”

In die eerste deel van die hofsaak, wat op 16 Oktober 2025 aangehoor is, het AfriForum aangevoer dat die ontwikkeling dadelik gestaak moet word aangesien die nodige wetlike prosesse en goedkeurings, soos vereis deur die munisipale tribunaal, nie gevolg is nie. Die ontwikkeling kan dus die omgewing en die plaaslike gemeenskap negatief raak indien dit voortgaan. AfriForum wag steeds op uitspraak in dié deel van die saak. Intussen gaan bouwerk voort, wat die dringendheid vir regspraak en aanspreeklikheid beklemtoon.

“Miljoene rand word aan ’n nuwe dorp spandeer, terwyl die munisipaliteit nie eens behoorlik dienste aan die bestaande gemeenskap kan bied nie. AfriForum gaan nie stilsit terwyl ondeurdagte besluite, onwettige prosesse en swak beplanning die toekoms van die gemeenskap en die omgewing in gevaar stel nie,” sluit Grobbelaar af.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om kapsie te maak teen die ontwikkeling en dié petisie te onderteken. Die gemeenskap se steun sal AfriForum help om verdere druk te plaas sodat owerhede verantwoordbaar gehou word.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf