| | |

AfriForum-tak in Ottosdal sny drie hektaar se gras in Maart

Die AfriForum-tak in Ottosdal het gedurende Maart verskeie skoonmaakprojekte aangepak om die dorp weer in ’n goeie toestand te kry. Die tak het altesaam drie groot leë erwe oop gesny, die sypaadjies aan weerskante van Emcasa in Vermaasstraat tot by die Hervormde Kerk in Bokkie Human-straat gesny en is ook tans besig om ’n groot stuk oop veld se gras in die dorp klaar te sny. Eindelik in Maart is meer as drie hektaar se gras gesny en 10 sakke vullis verwyder.

Die sny van die leë erwe dien nie net as grassnyprojek nie, maar help ook om veiligheid in die dorp op te skerp. Misdadigers gebruik gereeld die lang gras en struike as wegkruipplek om hul misdade uit te voer, daarom het die tak hierdie projekte eerste aangepak in ’n poging om misdaad te bekamp.

Die sny van sypaadjies is ook ’n belangrike projek aangesien die gemeenskap elke dag die sypaadjies gebruik om te loop. Skoon sypaadjies skep ook ’n skoner en netjieser omgewing.

“Die AfriForum-tak in Ottosdal is vroeër vanjaar gereorganiseer met die nuwe bestuur wat letterlik en figuurlik nie gras onder hul voete laat groei het nie.  Die tak is hard aan die werk om Ottosdal op te knap en ’n beter dorp vir elkeen te skep,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum se Ottosdal-tak wil graag die gemeenskap aanmoedig om by projekte betrokke te raak en saam aan ’n beter Ottosdal te werk.

Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf