| | |

AfriForum-tak in Bethlehem maak agter Dihlabeng-munisipaliteit skoon

AfriForum se Bethlehem-tak het verlede week die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit se vuilwerk namens hulle gedoen toe die organisasie ’n opruimingsprojek aangepak het waar die munisipaliteit versuim het om dit self te doen. Die projek volg nadat die munisipaliteit al vier weke gelede verstopte dreine in Thompsonstraat, Eureka, oopgemaak het en die grond wat tydens hierdie proses uitgegrawe is, op inwoners se sypaadjies agtergelaat het.

Die gereelde reën in Bethlehem het daartoe gelei dat die hope grond op die sypaadjies weer in die dreine teruggespoel en sodoende verdere verstoppings veroorsaak het. Moedelose inwoners het AfriForum om hulp genader, aangesien die grond dit vir hulle bemoeilik het om hul eiendomme te betree en te verlaat.

AfriForum het gevolglik op 2 April begin om die grond te verwyder. Eers nadat AfriForum met die skoonmaakproses begin het, het die munisipaliteit uiteindelik op 8 April ook begin om die gebied op te ruim.

“Die gemeenskap kan nog verstaan as grond wat uitgegrawe word vir ’n dag of twee agterbly voordat dit verwyder word. Om dit egter vir weke daar te laat lê, is nie net onooglik en ongerieflik vir inwoners nie, maar veroorsaak ook dat dreine weer verstop en maak die aanvanklike werk nutteloos,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Hoewel daar reeds ’n merkbare verbetering in Bethlehem se estetika is, heers daar steeds groot verval en ’n ingesteldheid van ‘môre is nog ’n dag’. Die verbetering wat wel in die dorp sigbaar is, kan grootliks toegeskryf word aan ’n gemeenskap wat besluit het om self in te gryp. Dit is nie ’n oorwinning vir die munisipaliteit nie, maar eerder ’n bewys van ’n goed georganiseerde gemeenskap wat reeds swaar belas word deur dienste en belasting, maar weier om hul dorp aan verval oor te laat.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf