| | |

AfriForum-tak en vrywilligers in Sasolburg hou gras netjies

Gedurende die eerste vier maande van 2026 het die AfriForum-tak in Sasolburg met net twintig vrywilligers, vyf grassnyers en die wil om hulle dorp netjies te hou, 122 hektaar se gras gesny en 15 hektaar se openbare gronde skoongemaak. Verskeie groenstroke, parke, openbare plekke en ook langs die wildskamp by die Leeuspruit word deur die tak netjies gehou.

“Dit is merkwaardig dat die tak Sasolburg en Vaalpark met slegs ’n paar vrywilligers mooi netjies hou. As gras nie netjies is nie, moedig dit rommelstrooiery aan en dit is ook nie esteties en veilig vir die inwoners nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Behalwe hierdie groot werk wat hulle gereeld doen, het hulle ook die plaaslike vullisterrein geoudit en tot die slotsom gekom dat die terrein nie op standaard nie.  Daar is ook reeds by een skool ’n veiligheidsoudit gedoen en daar word beplan om dit by meer skole te doen om die skole te help om optimale veiligheid ter wille van die skoliere te handhaaf.

Verder doen die buurtwag gereeld saans apteekdiens om toe te sien dat die personeel wat die noodapteek beman, veilig is wanneer hulle toesluit. Daar word ook gereeld op Sondae vir twee ure by die begraafplaas diens gedoen, sodat families hul geliefdes se grafte in vrede en veiligheid kan besoek. Minstens 10 voertuie maak op Sondae van hierdie geleentheid gebruik.

“Net die deelname en bydraes van meer vrywilligers kan AfriForum se aksies verder volhoubaar uitbrei en versterk,” sê Braam Muller, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-tak.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak:  Kontak vir Muller by 076 125 7773.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf