AfriForum verwelkom Konstitusionele Hof se beslissing dat SAMRK nie bindende direktiewe mag uitvaardig

Louis Boshoff (Afrikaans)

Die Konstitusionele Hof het vandag eenparig beslis dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) nie bindende direktiewe mag uitvaardig nie. Dit vorm die kern van die hof se uitspraak in ’n saak tussen die SAMRK en AgroData, waarin AfriForum as vriend van die hof opgetree het. Die uitspraak stem ooreen met AfriForum se betoog dat bevindinge van die kommissie slegs afdwingbaar is wanneer dit deur ’n hofbevel bekragtig is. AfriForum verwelkom vandag se uitspraak en bestempel dit as ’n oorwinning vir gebalanseerde magsdeling in ’n grondwetlike bestel.

Vandag se uitspraak is ook in lyn met vroeëre uitsprake deur die Mpumalanga Hooggeregshof en die Hoogste Hof van Appèl. Die saak spruit uit ’n bevinding van die SAMRK dat grondbesetters op die plaas De Doorn Hoek (in besit van AgroData) gratis toegang tot boorgatwater gegee moet word. Dié howe het in AgroData se guns beslis dat die bevinding nie afdwingbaar is nie, maar die SAMRK het telkens na ’n hoër hof geappelleer, totdat die finale beslissing vandag gelewer is. AfriForum het ook in die Hoogste Hof van Appèl as vriend van die hof opgetree.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte van AfriForum, skep die uitspraak ’n belangrike presedent rakende die SAMRK se toekomstige optrede. “Geen polities- of ideologies-gedrewe bevinding van die Menseregtekommissie kan voortaan op landsburgers afgedwing word nie. Die SAMRK is vandag daaraan herinner.”

Die SAMRK se bevindinge oor die afgelope twee dekades het dikwels gebuk gegaan onder aantygings van politieke en rassevooroordeel. AfriForum meen dit wys hoe belangrik dit is om te verseker dat die kommissie nie vir homself meer magte toeëien nie.

Boshoff wys daarop dat AgroData nie die SAMRK se appèl teengestaan het nie en as sulks nie in die hof betoë gelewer het nie. “Die feit dat die appèl ongeopponeerd aangehoor is, het buitengewone aandag gevestig op AfriForum se rol as vriend van die hof. Uiteindelik is daar groot ooreenstemming tussen AfriForum se betoog en die uitspraak wat vandag gelewer is,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik